Met geen tyd oor op die klok nie is Gimmies se eerste hokkiespan in hul eie doelgebied besig om kliphard te verdedidig op die NWU Astro voor hul familie en vriende. Dit voel of dit hoekies reën met die skeidsregter wat keer op keer vir Nelspruit nog ‘n kans gee om gelykop te kom.
Sodra die fluitjie blaas is Gimmies gereed, veral hul doelwagter, Bennet Keet, wat ‘n linkerhand opsteek om die bal vir die vierde keer in ‘n ry te blok en dan met ekstra durf die bal uitskop. Daar is ekstase in die lug met Gimmies wat verlig en bly ‘n vyfde plek in hul ouderdomsgroep (o19A) behaal met ‘n 2-1 oorwinning.





Hierdie was maar een van die aksiebelaaide hoogtepunte tydens die 2026 Noordvaal Seunshokkietoernooi vanaf 30 Julie – 1 Augustus wat Gimmies as gasheerskool aangebied het.
Gimmies was op hul stukke op die NWU Astro en Gimmies Astro en ‘n uitstekende gesamentlike tweede algehele plek behaal.
Dit nadat die o19A’s ‘n algehele vyfde plek, die o14A’s ‘n sewende plek en die o16A’s ‘n negende plek uit 12 skole behaal het.
Die algehele wenner was Hoërskool Nelspruit. Hulle het die o16A-afdeling gewen en ‘n vyfde en sesde plek in die ander afdelings behaal.





Potch Gimmies se eerste hokkiespan (o19A) kan trots wees op hul vertoning in ‘n taai poelfase en uitspele, waar een wedstryd wat nie na jou kant toe gaan nie ‘n groot invloed kan hê.
Gimmies kon nie vir Midstream troef nie en moes toe vir vyfde plek teen Nelspruit uitspeel. Dit was ‘n naelbytstryd wat Gimmies met 2-1 gewen het danksy doele van Ben Burger en Rienk van Wyk. Ander uitblinkers vir Gimmies se eerstes tydens die toernooi was Benjamin van Wyk en Ulrich Botha.
‘n Pluimpie kan ook vir die organiseerders van die toernooi gegee word. Die feit dat die NWU Astro en Potch Gimmie-Astro loopafstand van mekaar is en dat ‘n winkelsentrum ook net ‘n klipgooi weg is, het dit vir spelers en ouers maklik gemaak.
Volgens die toernooi-organiseerder, Soekie Coertzen van Gimmies, was die 16de Noordvaal Seunshokkietoernooi ‘n groot sukses, al kon Gimmies nie een van die top drie plekke in hul ouderdomsgroepe behaal nie.
“Oor die algemeen was die skeidsregters op standaard. Die hele byeenkoms het baie goed verloop. Ek het komplimente gekry oor die verblyf sowel as die kos wat beamptes en spanne gekry het van ons GSOK (Gimmie-Sport Ondersteunersklub) se besighede wat by ons betrokke is. Dit was ook die eerste toernooi waar al die A-afdelings deur een skool aangebied is.”



