SportSport

Eerste Noordvaal goud vir Gimmies se o19A hokkiedogters in 34 jaar

Gimmies moes vir die derde uitspeelwedstryd in 'n ry met strafdoele wen. Hul kon vir Transvalia op die einde met 4-3 troef.

Vir die eerste keer sedert 1992 is Gimmies se eerste dogtershokkiespan die o19A-Noordvaalwenners nadat hulle Hoërskool Transvalia met 4–3 in 8 sekonde-strafdoele geklop het, nadat die wedstryd na normale speeltyd 2–2 geëindig het.

Die wedstryd, wat vanmiddag (Saterdag, 9 Augustus) op die NWU Astro plaasgevind het, was ‘n skouspel van opwindende en taktiese hokkie, met Transvalia wat goed teruggeveg het nadat hulle 2–0 agter was. Ninke de Bruin en Inge Hamm het vir Gimmies doele aangeteken, voordat Transvalia se Melissa Schwab en Ashley Blignaut die telling gelykop gemaak het.

Gimmies moes sodoende vir die derde uitspeelwedstryd in ‘n ry met strafdoele wen. Vir Gimmies was Ninke de Bruin, Tiekie Jonker, Inge Hamm en Lienke Coetzee suksesvol met hul strafdoelpogings. Gimmies se doelwagter, Oratile Windvoël, was weer uitstekend en het ‘n fantastiese blok gemaak.

Lienke het die beslissende strafdoel aangeteken, waarna die Gimmies-spelers en ondersteuners gejubel het. Dit was pure vreugde, met die spelers wat mekaar op die Astro omhels het. Vir sommige het die trane gevloei – veral die matriekspelers vir wie dit hul laaste Noordvaal-toernooi was.

Coetzee is ook as Gimmies se speler van die wedstryd aangewys, terwyl Transvalia se Mila Louw, wat ook nommer 12 gedra het, as hul beste speler van die dag aangewys is.

Foto’s: Wouter Pienaar

“Ek dink ons koppe was baie sterk en ons was gereed daarvoor. Ons span het al so ver gekom. Ons het hard geveg en op die einde ons beste gegee. Dit was ons derde agtsekonde-strafdoele in drie dae. Ons het mekaar geback en ons doelwagter was amazing,” het Lienke gesê.

Volgens Gimmies se hokkiedirekteur, Zandrie Reynders, is dit ‘n besonderse geleentheid en voorreg om met die goud in die Noordvaal A-toernooi weg te stap.

“Dit getuig van ‘n konstante afrigters-, ouers- en spelersbasis. Spelers gaan deur die hande van verskeie afrigters. Dit is meer as net een seisoen se harde werk. Die wedstryde was nie maklik nie. Dit is met groot genade en groot ywer dat ons die goud huis toe bring.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button