Dit was net ’n kwessie van tyd voordat die oud-Potch Gimmie-krieketster, Duan Jansen, sy eerste geleentheid in groen en goud kry.
Duan, die tweelingbroer van Proteas-krieketspeler Marco Jansen, het nou die geleentheid om ook ’n amptelike Proteas-speler te word en Suid-Afrika te verteenwoordig nadat hy vir die T20I- en eendaggroep vir ’n driehoekige reeks teen Namibië en Zimbabwe, asook drie eendagwedstryde teen Namibië in Windhoek, opgeroep is. Hierdie wedstryde sal van 28 Augustus tot 13 September plaasvind.
Duan het ’n uitstekende 2025/26-seisoen by die Titans gehad wat sy loopbaan na nuwe hoogtes geneem het. Hy is as die Titans se Speler van die Jaar, Nuweling van die Jaar, Eersteklas Speler van die Jaar, Eendagspeler van die Jaar en Spelers se Speler van die Jaar aangewys.

Hy het ook sy merk in die T20-toernooi vir Gloucestershire in Engeland gemaak, waar hy keer op keer ’n wedstrydwenner was. Hy het in sewe wedstryde 16 paaltjies teen ’n gemiddeld van 12 geneem.
Duan het sy professionele loopbaan by die Noordwes Dragons begin. As ’n 18-jarige het hy reeds syfers van 6/9 in ’n eersterangse wedstryd behaal. Na ‘n paar goeie seisoene by die Dragons het geleenthede het egter nie altyd Duan se kant toe gekom nie, met sy tweelingbroer, Marco, wat vinniger sy merk op internasionale vlak gemaak het. Die afgelope jaar het Duan egter gewys dat hy ook wêreldklas is.

Duan se veelsydigheid met die bal en kolf sal ’n groot aanwins vir sy span wees. Hy sal egter nie nou al saam met Marco in ’n Proteastrui verskyn nie, aangesien sy tweelingboetie nie in hierdie groep ingesluit is nie.
Hierdie jong Proteasspan, wat deur die oud-Dragons-speler Bjorn Fortuin aangevoer word, gee vir krieketondersteuners die geleentheid om na opkomende spelers te kyk wat nou hul name kan maak. Dit is ’n tyd van geleenthede teen hul Afrika-bure.
“Hierdie toer het ook die deur oopgemaak vir spelers wat op huishoudelike vlak goed presteer het. Duan is een van daardie spelers. Hy is ’n gehalte-alleskunner wat ook groot karakter vir die Titans getoon het,” sê Proteas-hoofafrigter Shukri Conrad.
“Dit is altyd opwindend om teen ons buurlande te speel, en die eerste ODI-reeks tussen Suid-Afrika en Namibië gee verdere betekenis aan die toer, veral terwyl ons voorberei vir volgende jaar se Wêreldbeker,” noem Conrad verder.
Proteasspan – Namibië-witbaltoer
- Bjorn Fortuin (kaptein)
- Eathan Bosch
- Dewald Brevis
- Tony de Zorzi
- Connor Esterhuizen
- Jordan Hermann
- Rubin Hermann (NW Dragons)
- Duan Jansen
- Kwena Maphaka
- Nqobani Mokoena
- Nqaba Peter
- Lhuan-dré Pretorius
- Lutho Sipamla
- Jason Smith
- Prenelan Subrayen



