Potchefstroom Gimnasium se eerste krieketspan het hul Noordwesseisoen op ’n suksesvolle manier begin toe hulle Klerksdorp Hoërskool (KHS) met vyf paaltjies geklop het.
KHS het uitstekend met die kolf begin en was 74 sonder verlies na 10 boulbeurte voordat Ruhann Steenkamp die eerste paaltjie geneem het. Hy was skitterend met sy spoed en swaai en het keer op keer die kolwers laat kopkrap. Hy het vier paaltjies geneem. Henré Cronje het met sy draaiballe ook vier paaltjies geneem nadat Steenkamp die deur oopgemaak het. KHS is vir 121 lopies uitgeboul.

Gimmies het die teiken met vyf paaltjies plat bereik, met Bennet Keet wat ’n onoorwonne 52 aangeteken het.
Die o15A’s se wedstryd teen Klerksdorp is na komende Donderdag, 27 Augustus, uitgestel.
Gimmies se o15B’s het hul tradisionele teenstanders, Potch Volkies, in ’n derby met 101 lopies geklop. Gimmies is vir 142 uitgeboul voordat hulle Volkies vir 41 in 12 boulbeurte uitgeknikker het. Ryan McPherson het 7/17 geneem, terwyl Willem Steyn 3/23 geneem het.




