Seun (12) van fiets afgeruk en beroof
Volgens sy ma, Tineke Ingram, het Juan-Liam besluit om dié middag vroeër huis toe te gaan.
’n 12-jarige seun is Maandagmiddag, 24 Augustus van sy fiets beroof en beseer toe hy naby die gholfbaan op pad huis toe was.
Juan-Liam Heeringa was omstreeks 16:00 alleen op pad huis toe nadat hy vroeër die middag saam met ’n groepie maats fiets gery het.
Volgens sy ma, Tineke Ingram, het Juan-Liam besluit om dié middag vroeër huis toe te gaan. Dit was onderweg by die robot waar fietsryers die pad naby die gholfbaan oorsteek, waar hy na bewering deur ’n man van sy fiets afgeruk is.
“Hulle is ’n groepie wat gewoonlik saam gaan fietsry. Hy het egter Maandag besluit hy wil vroeër huis toe kom en dit is toe wat hy beroof is,” vertel Ingram.

Sy sê die man het haar seun gegryp, hom van sy fiets afgeruk en hom daarna omgestamp voordat hy met die fiets weggejaag het. Die man het glo ’n mes by hom gehad en Juan-Liam is tydens die voorval aan ’n vinger gesny. Hy het ook verskeie bloukolle opgedoen.
Ingram sê sy is egter uiters dankbaar dat haar seun veilig is en nie ernstig beseer is nie.
“Hy kon baie ernstig beseer geword het of selfs gesteek gewees het.”
’n Vrou, Lizel, wat die voorval sien gebeur het, het Juan-Liam in haar motor gelaai en hom na sy ma se werk geneem.
“Hy het verskriklik gehuil. Ek was erg bekommerd oor wat fout is. Ek dink wel die skok en trauma is erger as die beserings of die fiets wat weg is,” sê Ingram.
Volgens haar het Juan-Liam die fiets in Julie as ’n verjaardaggeskenk gekry. Dit was sy heel eerste fiets en skaars ’n maand oud toe dit gesteel is.
“Dis baie sleg as jou kinders hulle goed so mooi oppas en waardeer en dan kom iemand en vat dit by hulle.”

’n Man op ’n rooi motorfiets het die voorval glo ook gesien en die verdagte in Jeugdstraat agternagesit. Dit is egter nie bekend wat daarna gebeur het nie.
Ingram doen ’n beroep op ouers om, waar moontlik, toe te sien dat kinders saam met maats fietsry en nie alleen op pad is nie.
“Ek sou graag wil hê dat mense asseblief liewer hul kinders sien saam met maats ry. Ons dorp was eens ons ‘speelgrond’. Nou sit ons met ’n catch-22. Sit jy jou kind heeldag voor ’n TV of op ’n selfoon, of laat jy jou kind lewe en vry wees en kind wees – en word dan beroof?”
Ingram het ook haar dankbaarheid teenoor Lizel uitgespreek omdat sy ná die voorval ingegryp en seker gemaak het dat Juan-Liam veilig by sy ma uitkom.
“Uit my hart, bitter baie dankie aan Lizel wat my seun veilig by my by die werk teruggebring het. Jy is waarlik ’n engel.”
‘n Saak is by die polisie aanhangig gemaak.



