Arende knak Shimlas op tuisbodem
Dié bonuspunt oorwinning gee die NWU 'n uitstekende kans om in die top vier te eindig. Die Arende moet nog teen Tuks, UJ en CUT speel.
Die NWU Arende het gisteraand, amok onder die manne van Bloemfontein gesaai.
Die Potchefstromers het ‘n weghol sege van 59 – 14 teen die verdedigende Varsitybeker kampioene ingepalm. Die klein jakkalsies van die vorige weke wat die Arende ietwat gekelder het, het gelyk of dit iets van die verlede is.
Die eerste helfte was ‘n taai affêre, die NWU het baie druk van Shimlas weerstaan, om teen halftyd 15-0 voor te loop. Die damwal het al begin kraak teen die einde van die eerste helfte, met die Arende wat kort voor halftyd twee keer onder die pale gaan kuier het.
Dit was in die tweede helfte waar die dinge vir die manne van Bloemfontein egter baie skeef begin loop het. Hulle het te veel ongedwonge foute gemaak, en kon ook nie kapitaliseer toe die NWU net 14 manne op die veld was nie. Dit was die Arende wat nog twee keer gaan druk het, toe hulle een minder was.
Die Potchefstromers se verdediging was weer op vorm en die druk het gewys met ‘n besonderse onderskep drie van Luan van der Walt, wat die speler van die wedstryd toekenning ontvang het. Hy het uit sy eie helfte onderskep om al die pad doellyn toe te haas. Dit was maar een van die indrukwekkende stukkies spel wat die Potchefstromers op die aand ten toon gestel het.
Dié bonuspunt oorwinning gee die NWU ‘n uitstekende kans om in die top vier te eindig. Die Arende moet nog teen Tuks, UJ en CUT speel.



