Naledi laat die son skyn in Australië
Die NWU se Potchefstroomkampus gaan binnekort van hul eie studente se projekte in Australië sien naam maak. Naledi, die NWU Sonkar, gaan van 8 tot 15 Oktober deelneem in die Bridgestone Wêreld Sonkragtydren waar sy gaan meeding teen van die beste spanne in die wêreld, waaronder die Universiteit van Michigan (VSA), Cambridge Universiteit (VK), Tokai …
Die NWU se Potchefstroomkampus gaan binnekort van hul eie studente se projekte in Australië sien naam maak. Naledi, die NWU Sonkar, gaan van 8 tot 15 Oktober deelneem in die Bridgestone Wêreld Sonkragtydren waar sy gaan meeding teen van die beste spanne in die wêreld, waaronder die Universiteit van Michigan (VSA), Cambridge Universiteit (VK), Tokai Universiteit (Japan) en die Nuon Solar Team (Nederland).
Naledi is die nuutste sonkar wat deur die NWU se ingenieursstudente gebou is om mee te kompeteer. Die NWU Sonkar het in 2012 aan hul eerste sonkragtydren deelgeneem, met slegs drie maande om daarvoor voor te berei. Nietemin het hulle steeds baie goed presteer en eerste gekom in die Olympia-klas. Hulle het ook daardie jaar die Suid-Afrikaanse rekord vir die verste afstand gereis, gebreek. Van daar het die NWU se sonkar aan verskeie ander kompetisies deelgeneem en aangehou om te verbaas.
Vanjaar is hulle die enigste span uit die hele Afrika wat gaan deelneem aan die Bridgestone Wêreld Sonkragtydren waar hulle gaan meeding in ’n resies van 3 000 km. Die resies begin in Darwin en eindig in Adelaide.
Die passievolle projekleier van die NWU Sonkar, Arno de Beer, sê dat die span baie opgewonde is oor die kompetisie, en dat hulle hoop om terug te keer as wêreldkampioene. “Net om te kan deelneem aan die kompetisie, is klaar vir ons ’n wen,” sê hy.
Hy sê ook dat die NWU-span ’n goeie kans staan om te wen aangesien die spanlede elk ’n passie vir die kar het. “Die sonkar is deur die studente self gebou. Alles word hier op kampus gedoen, waar van die ander universiteite hul voertuie se onderdele laat maak.” Die enigste onderdele van die Naledi sonkar wat nie deur die ingenieurstudente gebou is nie, is die sonpanele, enjin en batterye. Die bou van die sonkar is ook ’n totale spanpoging. Studente met verskillende vaardighede in elektriese-, meganiese- en chemiese ingenieurswese sit koppe bymekaar om dié sonkar ’n wenkar te maak.



