Kry nuwe lewe met knutsel
Yolandé Hattingh het 'n kreatiewe uitlaatklep by baie vrouens raakgesien, daarom het sy die groep Knutsel Koninginne begin.
“Ons almal moet ‘n kreatiewe uitlaatklep hê – ‘n venster, ‘n ruimte – sodat ons nie onsself verloor nie.” Dié wyse woorde van Norman Fischer het nog nooit soveel betekenis gehad soos nou nie. Yolandé Hattingh het hierdie behoefte by baie vrouens raakgesien, daarom het sy die groep Knutsel Koninginne begin.
“Die Covid-inperking het meer as net die virus van almal weggehou, daarom is dit nodig om weer bymekaar te kom en kreatief te wees, want terwyl jy met jou hande besig is, gebeur daar mos ook iets met jou kop,” sê Yolandé. Sy verduidelik die simboliese gedagte agter die Koninginne en sê dat elke vrou eintlik ‘n kroon op haar kop dra, maar dat die kroon somtyds skeef sit en in sommige gevalle op die vloer lê. “By die Knutsel Koninginne skuif ons mekaar se krone weer reg op hul koppe.”
Die Knutsel Koninginne kom een keer per maand by die Snowflake-gebou bymekaar waar hulle ‘n handwerkprojek aanpak. Die Nederlandse woord vir handwerk is knutsel. “Vrouens hoef nie bang te wees dat hulle nie kunstig genoeg is nie. Die projekte wat aangepak word, kan enige iemand doen. Elkeen gee sy eie kreatiwiteit aan die projek waarmee hy besig is.”
Saterdag, 24 Oktober, het ‘n groep vrouens geleer om ‘n Japanese mosbol, ‘n kokedama, te maak en dit geniet om in die grond en met plante te werk. Hulle het ‘n grondbal gevorm en binne die bal ‘n plantjie geplant wat met mos oorgetrek is. Dié kokedama word opgehang en groei in die mosbol tot dit te groot word en weer uitgeplant moet word.

Die volgende projek van die Knutsel Koninginne word Saterdag, 21 November aangebied. Dit bestaan uit ‘n klein dorpie wat elkeen uit houthuisies gaan bou. Die houthuisies word vooraf gesny en elkeen kry hulle huisies wat hulle moet versier. Vir meer besonderhede oor die projekte wat aangebied word, besoek die Facebookblad van Knutsel Koninginne Potchefstroom, of skakel Yolandé by 079 418 6670.




