Skenk blikkieskos vir ouer mense wat swaarkry
Besighede en skole in Potchefstroom span saam om van 2-12 November blikkieskos in te samel vir ouer mense wat in die huidige ekonomiese klimaat swaarkry.
Besighede en skole in Potchefstroom span saam om van 2-12 November blikkieskos in te samel vir ouer mense wat in die huidige ekonomiese klimaat swaarkry. Janet Potgieter nooi alle inwoners amptelik uit om by die Power Towers inisiatief betrokke te raak.
Dié organisasie samel in nege provinsies blikkieskos vir behoeftige mense in. Vanjaar is Potchefstroom die versamelpunt vir blikkieskos in die Noordwes en dit is die Dienssentrum vir bejaardes se beurt om kos te kry.
“Wanneer ouer mense finansieel swaarkry, is kos die eerste uitgawe waarop hulle sny. Dis ‘n wonderlike inisiatief van die Power Towers en ons het baie mense vir wie ons die kos voor Kersfees wil uitdeel,” sê Wendri Eloff, direkteur van die Dienssentrum.
Vir haar is dit belangrik dat ouer mense nie hulle dieet moet afskeep nie, want voedsame kos hou hulle gesondheid in stand. Eloff verduidelik dat ‘n maatskaplike werker en verpleegkundige van die Dienssentrum die mense in nood besoek. “Hulle identifiseer die mense wat die kos werklik nodig het.”
Individue wat nie noodwendig deur ‘n besigheid skenkings wil maak nie, kan hulle blikkies by Kryolan, JannyDjanModels, Trots Potch, Curves, Essentials Skin Health and Beauty en die Snowflake-gebou afgee.
Skenkers staan ook ‘n kans om ‘n verrassing met ‘n gelukkige trekking te wen. Skryf jou naam, van en telefoonnommer met ‘n permanente pen op elke blikkie wat jy skenk. Gelukkige trekkings word op 13 November gedoen.
Potgieter vertel dat daar ‘n feestelike dag met die oorhandiging van die blikkieskos beplan word. “Vrydagoggend, 13 November sal ‘n hoë toring met die blikkieskos gebou word. Besighede word dan genooi om die blikkieskos wat hulle ingesamel het vroegoggend by Kryolan af te laai. Ons bou ‘n hoë toring voor Kryolan (Steve Biko-straat 74) en aan die einde oorhandig ons die blikkies aan die Dienssentrum.”
Besighede kan ook foto’s neem saam met personeellede en die blikkieskos. WhatsApp dié foto’s na Janet by 060 540 2009. Sy sal dit op haar beurt weer op die Dienssentrum en die Nasionale Power Towers se Facebookblad deel.




