Krieketondersteuners wat gister se eendagwedstryd tussen die Proteas en Australië in Durban gekyk het, se oë het behoorlik gerek toe die oud-Potch Gimmie, Marco Jansen, met ’n ongelooflike eenhandige vangskoot op die grens die wedstryd in Suid-Afrika se guns gedraai het.
Jansen het sy volle twee meter lengte benut en grasieus getrek en oor die gras gegly met die bal tussen sy regterduim en wysvinger. Soos ’n tang het hy die bal vasgeklem en seker gemaak dat dit nie die gras raak nie.
Hierdie vangskoot het sedertdien op die internet opslae gemaak, met talle ondersteuners wat die vangskoot gedeel het.
Jansen het in ’n video-onderhoud met Krieket Suid-Afrika op hul Facebook-blad vertel hoe hy hierdie ongelooflike vangskoot reggekry het.
“Ek het die bal in die lug sien trek en aanvanklik het ek nie gedink dat ek by die bal sou kom nie. Ek het in ’n breukdeel van ’n sekonde besluit dat ek vir die vangskoot sou gaan. Maak nie saak of ek daar uitkom of nie. Ek het vir myself gesê dat ek net moet duik. My regterhand is nie my sterkste hand om te vang nie, omdat ek links is. Dit is een van daardie oomblikke wat die bal óf vassit óf nie.”



