Ventersdorp gemeenskap staan saam teen plaasmoorde voor hof
Die vyf verdagtes in die plaasaanval-saak van die Ventersdorp boer, Donovan Marx, gaan vandag in die Ventersdorp Landdroshof verskyn.

Die Ventersdorp gemeenskap wat boere, aktiviste en belanghebbendes insluit is vanoggend (3 November) saam voor die Ventersdorp Landdroshof om ondersteuning te bied in die Donovan Marx plaasaanval-saak.
Marx is op Woensdag, 28 Oktober wreed op sy plaas tussen Potch en Ventersdorp aangeval. Sy ore is ook tydens die aanval afgesny. Marx sterk steeds aan in Potchefstroom MediClinic.

Die vyf verdagtes gaan vandag in die Ventersdorp Landdroshof op klagtes van roof en poging tot moord verskyn.
Die polisie het twee verdagtes in Ventersdorp en drie in Promosa die afgelope week in verband met die aanval op Marx gearresteer.
Die aktivis, Petrus Sitho, het sy ondersteuning gewys en genoem dat sake nie so kan aangaan nie en die reg moet geskied.
Talle boere in die distrik het ook plakkate gebring om hul ondersteuning te wys. Die gemeenskap het ook hul dank aan die polisie uitgespreek met verwysing na die ondersoekbeampte, Kapt. Bonita Dry en haar span.
Kallie Kriel, die hoofuitvoerende beampte van AfriForum, het ook genoem dat president Cyril Ramaphosa se stilswye boekdele spreek.
“Donovan Marx is nie nog ‘n statistiek nie. Dit is belangrik dat ons saamstaan en wat gebeur het nie aanvaar nie. President Ramaphosa het nie hierdie aanval geoordeel nie.”



