AfriForum Jeug eis stappe ná aanranding van Mafikeng-dosent
AfriForum Jeug eis dat stappe geneem word teen betogende studente wat 'n vrouedosent by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Mafikeng-kampus aangerand het.

https://www.youtube.com/watch?v=YmRi67uJejo&feature=youtu.be
AfriForum Jeug eis dat stappe geneem word teen betogende studente wat ‘n vrouedosent by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Mafikeng-kampus aangerand het. Die betogende studente het ‘n klas ontwrig om die studente binne die lokaal toe te spreek. Toe die dosent egter vir die klas vra of hulle nie eerder wil studeer nie en hulle aandui dat dit wel die geval is, het een van die betogende studente haar met sy hande op haar bors uit die klas gestoot.
“Dit is duidelik uit die reaksie van die studente in die klas dat hulle eerder wou studeer en nie die optrede van die betogende studente goedkeur nie. ‘n Mens kan die ontevredenheid onder studente hoor toe die betoger die dosent op haar bors begin stoot,” het Janli Sonntag, AfriForum Jeug se kampuskoördineerder, gesê.
Die NWU het ‘n verantwoordelikheid teenoor sowel studente as dosente om hul veiligheid en reg op onderrig te verseker. AfriForum Jeug is van mening dat die meerderheid studente nie die betogende studente ondersteun nie.
“Die universiteitsbestuur kan nie toelaat dat ‘n klein groep radikale studente die res van die kampus gyselaar hou nie. Daar moet teen anargiste opgetree word wat ander se regte ontneem en hul veiligheid in gedrang bring,” het Sonntag afgesluit.
Volgens Koos Degenaar, woordvoerder van die Mafikeng kampus word die saak tans deur die NWU Mafikeng kampus ondersoek.
“Die dosent het nie as ‘n individu ‘n klag gele nie, maar dit vorm deel van ‘n globale klagte wat die kampus teen die betrokke groep studente gaan le wat dit ‘n sterker saak maak. Die student is ook nie van die Mafikeng kampus nie, maar na bewering van TUT. Die ontwrigting van klasse en ander kampus aktiwiteite word ten sterkste deur die bestuur veroordeel en hulle doen alles moontlik om orde te handhaaf sodat daar met die akademiese kalender voort gegaan kan word,” het Degenaar gesê.