Vir ‘n plaaslike veeboer is haar beroep nie ‘n werk nie omdat sy dit so geniet.
Die 41-jarige Eileen Jacobs boer al vir die afgelope 13 jaar en het vertel dat hulle grootgeword het met diere, daarom was sy nog altyd baie lief vir diere.
“Boerdery is in jou bloed en ‘n plot is nie ‘n plot sonder diere nie.”
Sy het ‘n paar perde, skape soos Merino’s en Meatmasters, en beeste soos Brahmane en Bonsmaras.
“Met veeboerdery is jou tyd nooit jou eie nie; die skape het hulp nodig as hulle sukkel om te lam en dan moet jy regstaan. Maar jy sien uit na elke lamseisoen en voel geseënd as jy ‘n kalf ryker word. Dan voel dit nie soos werk nie maar soos ‘n lekker stokperdjie.”
Die skape kry gereeld gras, ‘n voermengsel en lekblokke.
“Dosering word gereeld gedoen om wurms onder beheer te hou, dan moet daar vir bloednier op sy tyd gespuit word asook ander gereelde spuite gegee word om siektes te voorkom.”
Sy het vertel dat daar af en toe op die perde gery word. Die beeste en skape word verkoop as hulle die regte gewig het, maar sy hou ook altyd teeldiere uit.
“Die perde word elke dag geroskam, in die somer kry hulle van tyd tot tyd ‘n bad, en hul hoewe moet minstens een tot twee keer ‘n jaar geskaaf word. Die skape en beeste word gereeld gedip.”
Eileen het vertel dat daar elektriese heinings, kameras, sekuriteitstrale en ‘n wag is om veediefstal te voorkom. “Diefstal is ons grootste vrees.”
Sy het vertel dat haar werk ten spyte daarvan vir haar lekker is dat sy dit geniet om te boer.



