Letters

BRIEF: Mooie herinneringe, maar ’n vervalle dorp

Inwoner reageer oor ’n ander inwoner se brief wat Randfontein as mooi, skoon en ’n voorbeeld vir ander munisipaliteite beskryf – hier is haar opinie.

• Anoniem skryf:

Ek het onlangs ’n anonieme inwoner se brief gelees waarin Randfontein as ’n mooi en skoon dorp beskryf word.

Dit is duidelik dat die skrywer goeie herinneringe het aan die dorp en dit is sekerlik waar.

Ongelukkig is die werklikheid vandag heeltemal anders. Randfontein, my trotse tuisdorp, is besig om uitmekaar te val.

Die paaie is in ’n haglike toestand. Die enigste gholfbaan is ’n woestyn nadat die palisade gesteel is. In Robinson parkeer trokke sommer langs die pad. Vullis word oral gestort en op pad na Wheatlands lê die rommel by die vier-rigting-stop. Van Randgate tot Eike Park is dit erg – ’n mens kan skaars daar ry. Ek probeer gate vermy, maar feitlik elke straat lyk só.

• Lees ook: LETTER: ‘Randfontein municipality sets the standard for excellence’

Die brug by die ingang van die dorp vanaf Krugersdorp is al jare lank beskadig en is nog nooit herstel nie. Ek vrees regtig die dag wat ons daaroor ry en dit ingee.

Geen verkeersligte werk nie en stoptekens is óf weg óf swak gemerk. So kan ek aangaan.

Ons sit gereeld sonder water en krag, tog betaal ons vir dienste. Wat gebeur met die erfbelasting wat inwoners aan die munisipaliteit betaal? Gaan dit net vir salarisse? Wat doen die burgemeester aan die huidige toestand van die dorp?

Ek hoop inwoners dink mooi voor hulle hul kruisie by die volgende verkiesing trek. Soos dinge tans staan, gebeur daar eenvoudig niks.

Ek sê net wat ek sien en beleef. Kasty my as julle wil – maar feite bly feite.

Groetnis

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button