Local newsNews

Minagtig teenoor Afrikaans ‘n probleem

Vryheidsfront Plus lig hul mening oor swak Afrikaanse onderrig in Suid-Afrika.

“Die uiters swak Afrikaanse vertaling van voorgeskrewe handboeke van skoolleerlinge is ‘n belediging vir alle afrikaanssprekendes.”

Dit die woorde van Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus Gauteng mediawoordvoerder.

“Suid-Afrika se ontoereikende onderwysstelsel en tekort aan handboeke is vir ‘n geruime tyd reeds ‘n groot bron van kommer en verleentheid. “Die minister van onderwys, Angie Motshekga, is vol beloftes en verskonings en is skynbaar die enigste persoon wat glo sy en haar departement presteer na wense.

“Die werklikheid spreek egter van swak leiding, swak onderrig standaarde en ‘n ontoereikende onderwysstelsel.”

Die Vryheidsfront Plus is egter van mening dat die Suid Afrikaanse onderwysstelsel op ministriële vlak reeds tekort skiet.

“Daar is jaar na jaar voortslepende probleme wat nie behoorlik aangespreek word nie en wat ‘n geweldige negatiewe houding onder leerlinge teweeg bring.

“Dit is maklik om leë beloftes aan mense te maak”, sê De Lange, “maar dit verg ‘n ware leier en ‘n bekwame span om daad by die woord te voeg.”

Die voorbeeld van ‘n uiters swak vertaalde handboek lees as volg: “Vroue as gevolg van hul biologiese eienskappe is ontwerp deur die natuur spesefieke biologiese en reproduktiewe rolle soos die uitvoering van swangerskap, gee geboorte en borsvoeding om babas te voer. Mans se biologiese reproduktiewe rol is om die ovum wat verseker, dat swangerskap vind plaas te bemes.”

“Ons is woedend oor die roekelose en minagtende vertaling wat aan leerlinge opgedis word deur die departement van onderwys en die regering,” sê De Lange.

“Die feit dat die woord ‘bemes’ in die konteks hierbo gebruik is, dui daarop dat die vertaler geensins Afrikaans taalkundig is of gekwalifiseerd is om vertaalwerk te doen nie en duidelik ook nie Afrikaans magtig is nie.

“Die Vryheidsfront Plus gaan beslis eis dat Minister Angie Motshekga van haar pos as Minister van Onderwys onthef word en vervang word met iemand wat oor behoorlike kwalifikasies vir die posisie beskik asook die nodige kennis en ondervinding het om die land se onderwysstelsel na behore reg te ruk.

“Dit is verstaanbaar dat tuisonderrig deur geakkrediteerde privaatinstansies so gewild raak deesdae en dat daar al hoe meer privaatskole die lig sien.

“Dit druis teen elke kind se menseregte in om nie die beste onderrig te ontvang waarop hy of sy geregtig is nie.

Volgens De Lange het swak onderrig ‘n wesenlike en verreikende impak op ‘n land se sosio-ekonomiese klimaat en sy sê Suid-Afrika se buitensporige hoë kriminele statistieke is maar een van die gevolge van swak en ontoereikende onderrig

Volgens die Vryheidsfront Plus word daar al ‘n geruime tyd oor ingrype in die steeds verswakkende onderwysstelsel en dalende standaarde gepraat maar daar is tot dusver geen aksie van regeringskant af geneem nie.

De Lange meen dit is ‘n vernedering vir elke trotse afrikaanssprekende kind om onderhewig te wees aan sulke swak vertaalde leerstof en dit benadeel hulle werksprestasie.

“Elke leerling is geregtig op ordentlike en goeie kwaliteit onderrigmateriaal. “

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button