Tuisgimnasium, ‘n goeie opsie in ‘n besige lewe
Met die somer in ons midde, het nie almal die tyd om by 'n gymnasium uit te kom nie, daarom raak tuis gimnasium 'n beter opsie.
Met die somer op hande besluit baie mense om ‘n bietjie meer te oefen – al is dit net om ‘n paar winterrolletjies af te skud met die oog op ‘n fietse lyfie teen die tyd dat die Desembervakansie aanbreek.
Maar vir baie mense is dit ook die besigste tyd van die jaar en dit kan moeilik raak om ‘n uur of wat af te knyp om gereeld by ‘n gimnasium te gaan oefen of elke aand ‘n entjie te gaan draf.
En dis die rede, sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomgroep, waarom tuisgimnasiums wat enige tyd van die dag of nag benut kan word al hoe gewilder word.
‘n Nuwe opname deur Coldwell Banker Previews International en die Luxury Institute toon inderdaad dat ‘n tuisgimnasium een van die top vyf eienskappe is wat welgestelde jong kopers in ‘n nuwe huis verkies.
Everitt sê egter dat tuisgimnasiums gewoonlik nie doelontwerp is nie.
“In ouer huise kan ‘n gimnasium byvoorbeeld maklik in ‘n ekstra slaapkamer of studeerkamer ingerig word. Maar vir die grootste gerief – en om dit vir voornemende kopers aanloklik te maak – mag sulke vertrekke ‘n bietjie opknapping benodig.”
Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat ‘n oefenkamer byvoorbeeld goeie ventilasie moet hê en dit mag meebring dat meer vensters of ‘n oorhoofse waaier aangebring moet word.
“Bykomende kragproppe vir toerusting mag ook nodig wees en vloeroppervlakke moet duursaam wees.”
“‘n Groot spieël teen een van die mure sal jou in staat stel om jou bewegings te monitor en te slyp – ‘n aspek wat vir baie geesdriftiges belangrik is. En as jy energieke oefenvideos of dawerende musiek as inspirasie gebruik, mag dit ‘n goeie idee wees om die mure klankdig te maak.”
Laastens, sê Everitt, as jy beplan om jou gimnasium op ‘n boonste vlak in te rig, moet jy seker maak dat die trappe wyd genoeg om toerusting boontoe te dra – en dat die vloer die gewig van groot en swaar toerusting kan dra.
“Nietemin, jy het straks nie veel of duur toerusting nodig om weg te spring nie. Voordat jy jou gimnasium inrig behoort jy jou persoonlike voorkeure in oënskou neem. As jy ‘n rustige sessie joga verkies, gaan jy net ‘n klein ruimte nodig hê waar jy jou mat kan ooprol en strelende musiek kan aanskakel.
“As jy van fietsry hou, kry net ‘n stilstaande oefenfiets. Hou jy van stap? Belê in ‘n goeie trapmeul. Niemand het immers ‘n deftige gimnasium nodig om gereelde oefening ‘n gewoonte te maak nie.”



