Laerskool Randfontein spog met vier nuwe personeellede asook drie studente-onderwysers vir die nuwe skooljaar.
Hulle is Melissa Loreti, Reinette Herbst, Marelize Olivier en Simoné de Wit, en die drie studente is Jean-Marie de Jager, Annamarie Bekker en Liza-Marie Olivier.
Melissa is ‘n nuwe Graad R-juffrou. Sy was eers ‘n lugwaardin en toe ‘n kleuterskoolonderwyser, en glo dat kinders elke dag liefde in haar klas moet ervaar. Reinette is ‘n bekende wat terug is en Engels gee vir Graad 6. Nadat sy die Mev Afrika-titel gewen het, het sy eers haar aandag aan liefdadigheids- en modelwerk gewy.

Marelize, wat eers by die kleuterskool was, het besluit dat dit tyd is vir groot word en is nou ‘n Graad 3-juffrou. Sy glo dat geluk bereik word wanneer jy ophou om daarvoor te wag, en die beste te maak van die oomblik waarin jy nou is. Simoné is ‘n Graad 4-voogonderwyser en help met Afrikaans, Engels en Wiskunde. Sy geniet dit om saam met haar verloofde en twee honde te gaan stap want dit laat die skoolspanning wegsmelt.
Oud-Rammie Jean-Marie is ‘n student by die kleuterskool. Onderwys loop in haar bloed en sy kan nie wag om die klein maats te hoor lag nie.
Annamarie is ook ‘n oud-Rammie en sy is ‘n student by die Graad 2’s. Sy geniet die natuur en om met kinders te werk. Liza-Marie is ‘n derdejaarstudent en is baie opgewonde om ‘n Rammie te word. Sy kan nie wag om ‘n verskil in die ontwikkeling van kinders te maak nie.




