Local newsUpdate

Oom Piet steeds aan die gang

Oom Piet is steeds op en af besig om 'n verskil in Randfontein te maak. Die brug by Hoërskool Riebeeckrand was sy jongste projek.

Piet Lottering, bekend as Oom Piet, is steeds hard besig om die dorp instand te hou.

Op 21 Februarie het Oom Piet homself sigbaar gemaak op die brug by Hoërskool Riebeeckrand. Volgens hom is die heining wat aan weerskante van die brug is, afgebreek en gesteel. Oom Piet en sy span het toe die geleentheid gebruik om die heining te vervang.

“Dit kos ons R43 000. Ons sit dit op sodat die dorp weer beter kan lyk. As ons klaar die heining vervang het gaan ons die bossies wat hier groei, uittrek,” het Oom Piet verduidelik.

• Lees ook: Gaan Oom Piet af tree?

Wat die slaggate aanbetref het Oom Piet vertel dat hy hierdie maand R1 900 ingesamel het om teer te koop. Hy het ook bevestig dat hy steeds die dorp se infrastruktuur probeer herstel.

Volgens hom het hy verlede jaar oor die 9 000 slaggate toegemaak. Vanjaar het Oom Piet en sy span reeds meer as 300 slaggate in verskeie strate reggemaak.

“Ek gaan nogsteeds aan. As die gemeenskap geld gee dan teer ek. Ek gaan Randfontein help,” het hy verklaar.

Oom Piet vertel verder dat hy werk vir die gemeenskap sou skep indien hy die geld gehad het. Hy deel verder sy dankbaarheid aan die individue wat donasies gee.

“My hardewarewinkel het vir die staal betaal vir die heining wat ons opgesit het. Ek bedank graag die besigheid wat bygedra tot die projek. Hulle het onder andere die heinings verniet gemaak,” het Oom Piet gesê.

• Lees ook: Gemeenskap staan bankvas agter Oom Piet se regmaak-projek

Hy is wel bekommerd dat daar nie genoeg fondse is om met sy slaggatprojek aan te gaan nie.

Munisipale woordvoerder Phillip Montshiwa het intussen gesê die munisipaliteit het nie vir Oom Piet gekontrakteer om instandhouwerk in die dorp te doen nie.

“Die munisipaliteit is in die proses om enige kwessie binne sy jurisdiksie aan te spreek aangesien ons nie met sy dade saamstem nie. Daar moet egter in kennis geneem word dat sommige gebiede buite munisipale jurisdiksie lê,” het Montshiwa afgesluit.

Related Articles

 
Back to top button