Local newsUpdate

Tweejarige sterk goed aan na oogoperasie

Simoné Sinden se operasie was 'n sukses, nou moet hulle net wag en kyk hoe haar oë aanpas.

Klein Simoné Sinden herstel goed na haar oogoperasie waar katarakte verwyder is om haar te help om weer te sien.

Die Randfontein Herald het op 29 November berig oor Simoné wat met bilaterale katarakte gebore is. Dit het daartoe gelei dat sy slegs 2% sig in een oog en niks in die ander oog gehad het nie. Simoné het op 26 November ’n operasie ondergaan om die katarakte te verwyder.

Haar ma, Audrey, het gesê: “Dit gaan baie goed. Simoné herstel vinnig en ons sien reeds ‘n groot verskil. Ons sien hoe die tweejarige dinge vir die eerste keer ervaar en dit is wonderlik. Op hierdie stadium ons het nog nie die antwoord nie oor opvolgoperasies nie, want ons moet wag en sien hoe die oë genees, herstel en begin werk.”

• Lees die oorspronklike artikel hier: Help peuter (2) om weer te sien

Die dokter het nou ook vir Simoné ’n bril voorgeskryf wat gemaak moet word. Audrey het verduidelik haar een oog was lui aangesien dit nog nooit gewerk het nie. Hulle hoop is dat die bril die oog sal help. In Januarie moet sy weer die dokter sien om haar vordering na te gaan.

Binne ses maande moet sy weer ‘n nuwe bril met bifokale lense sowel as sonbrille kry aangesien sy sensitief is vir lig. Dit is egter meer uitgawes vir hulle.

“Pick n Pay het vir ons ‘n koopbewys van R10 000 vir kruideniersware gegee. Good Morning Angels gee vir ons R20 000 vir alle ander uitgawes. Al die onmiddellike uitgawes wat ons gehad het is nou betaal en ons sal eers in die toekoms weet wat nog nodig sal wees wanneer ons sien hoe die oë reageer,” het Audrey verduidelik.

Hulle het besluit om die fondse in hul BackaBuddy-rekening vir toekomstige uitgawes te gebruik.

Audrey het bygevoeg, “Ons het elke gebed nodig wat ons kan kry. Hierdie jaar was ‘n baie moeilike jaar vir ons as ‘n gesin, maar die Here was baie goed vir ons. Ek en my man het ons werk verloor en ons sukkel steeds elke dag net om weer op te staan. Ons is dankbaar vir elke mens in ons lewe. Daar was tye wat ek nie geweet het hoe ek regop sou bly nie, maar ek het wonderlike mense om my gehad wat my hande vasgehou het, insluitend ons pastoor en sy vrou wat ons as gesin ondersteun het en ons die lig in die donker laat sien het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button