Sionspoort bied unieke gebaretaaldiens
Melinda Botha het die Sionspoort Gemeente met haar gebaretaalvaardighede tydens 'n unieke diens vermaak.
Sionspoort Hervormde Gemeente het onlangs ‘n unieke diens gehou met die hulp van ‘n gebaretaaltolk.
• Lees ook: Sionspoort fokus op inklusiwiteit
Groot afwagting en opgewondenheid het in die lug gehang terwyl Melinda Botha die gemeente met haar gebaretaalvaardighede vermaak het.
Volgens woordvoerder Appel Ernst het Melinda die diens lewendig gemaak van die openingsgebed tot die laaste gebed en slotlied.
‘n Aantal gehoorgestremdes wat die oggend bygewoon het, het vasgenael op hul stoele gesit en met entoesiasme aan die hele diens deelgeneem. Melinda het selfs die liedjies vertolk,” verduidelik Appel.
Na die diens en tydens die bedankings het Trudie Myburgh, gemeentelid met gehoorgestremdheid, haar dank aan Melinda en die Sionspoort-gemeente betuig.

“Ek en die gemeente wil graag vir Melinda bedank dat sy vir ons kom tolk het. Ons waardeer dit opreg. Dit is baie spesiaal dat sy van Delmas af kom. Ons was baie opgewonde om ‘n tolk te kry. Ons kan nou ook luister na God se Woord en wat Hy vir ons wil leer. God het ook die dowes spesiaal gemaak.
Gebaretaal is pragtig. Dankie dat die gemeente dowes aanvaar en ons in hulle kerk laat tuis voel,” het Trudie verkondig.
Sy het genoem dat dit wonderlik was om raakgesien te word en te kon deel in die goeie boodskap van dr Johan van Staden.
Teenwoordiges, wat nie gehoorgestremd was nie, het na die diens opgemerk dat die tolk aan die voorkant van die kerk glad nie ontwrigtend was nie.
Die gemeente beplan om sulke dienste in die toekoms meer gereeld aan te bied.



