Kuns loop deur haar are
Kunstenaar Marianca Coetzee vertel van haar groot passie vir kuns en hoekom dit ’n noodsaaklikheid in haar lewe is.
Kreatiwiteit vloei in Marianca Coetzee (27) se bloed.
• Lees ook: Magriet ‘n kunstenaar van formaat
Die multimedia kunstenaar het gesê sy skep al kuns so lank as wat sy kan onthou. Albei haar ouers het ‘n talent vir kuns, so dit was net gepas dat Marianca ook haar kreatiewe talente bemeester het.
Sy is gebore en getoë in die Vrystaat, waarna sy grafiese ontwerp aan die Universiteit van Potchefstroom studeer het. Sy het intussen ook haar fotografiesertifikaat ontvang. Sy het bygevoeg dat sy getroud is met die liefde van haar lewe, wat haar sonder twyfel ondersteun.
My liefde vir kuns gaan goed met my liefde vir perde. Ek het vir baie jare met perde gewerk waar ek ‘n loopbaan in perdesport gebou het,” het sy gesê.
Haar gunsteling mediums is waterverf- en potloodsketse. Marianca sien kuns as ‘n persoonlike uitbeelding van emosies en gedagtes wat oorgedra word. Sy beskryf kuns as haar vorm van kommunikasie.

“Ek glo almal het ‘n deel binne hulle wat wil skep en ontspan. Om emosies te verwerk, moet ‘n mens dit uitdruk en soms is praat net nie genoeg nie. Mense verstaan ook nie altyd woorde en tale nie, daarom is kuns ‘n perfekte universele taal,” het sy verduidelik.
Sy geniet kuns omdat dit haar toelaat om haarself op baie maniere uit te druk. Deur haar kunsloopbaan het sy nuwe mense ontmoet, groter dinge ontdek en haarself uitgebeeld.
Mense onderskat gewoonlik kuns. Maar dit voel goed om te weet dat die werk wat ek skep, my eie is. Ek hou daarvan om mense aan te raak met my kuns en om te sien hoe goeie spore agtergelaat word,” het sy afgesluit.




