Dominee Van Wyk oor Paasfees
Dominee Edwin van Wyk het gesels oor wat Paasfees beteken en hoe hy dit vier.
Die Randfontein Herald het dominee Edwin van Wyk gevra oor die betekenis van Paasfees en hoekom dit belangrik is.
• Lees ook: Pastoor vertel oor die ware betekenis van Paasfees
“Paasfees is die viering van die kernboodskap van Christenskap: Jesus Christus het vir ons sonde gesterf en Hy het uit die dood opgestaan. Jesus se opstanding beteken nuwe lewe, hoop, herstel, vreugde en oorwinning,” het Edwin begin.
Hy het verder uitgebrei oor sy persoonlike refleksie waarna hy vertel het, Paasfees is vir hom ‘n viering van sy geloof as ‘n Christen.
Ek glo dat Jesus ook vir my oortredinge gesterf het en dat Hy die dood oorwin het.
“Saam met mede-Christene vier ek die waarheid: Die graf is leeg, Jesus het opgestaan! Jesus het my ‘n nuwe lewe gegee. My lewe is nou sinvol, want ek weet aan wie ek behoort en waarheen ek op pad is.”
Edwin vier graag Lydingstyd, Palm Sondag, As Woensdag, Goeie Vrydag en Paas Sondag. Tydens Goeie Vrydag hou hy ook ‘n nagmaal diens. Gedurende Lydingstyd fokus Edwin sy boodskappe op Jesus se lydingspad.
“Een van die wanopvattings is dat Paasfees ‘n heidense fees is. Paasfees is ‘n Christelike fees wat verlossing, hoop en oorwinning verkondig. Daar is heerlike Paaseiers en sjokolade hassies in winkels. Vir baie mense is die Paasnaweek ‘n langnaweek waar hulle kan wegbreek.
Die gevolg is dat Christene vandag nie meer die Paasfees vier of erns maak met die gebeure nie. Die ware betekenis van Paasfees het dus vir baie Christene vervaag,” het hy verduidelik.
Verder het hy vertel dat Paasfees ‘n boodskap bring vir diegene wat uitdagings in hul lewe beleef.
“Jesus bring hoop in moeilike tye. Hy sorg daagliks vir ons, tel ons op en dra ons wanneer ons nie meer kan nie. Hy vertroos ons en hou ons vas wanneer ons alles verloor. God het Jesus uit die dood opgewek. Die krag wat in ons werk is sterker as enigiets anders. Dit is dieselfde krag wat Jesus lewendig gemaak het. Wie hulle geloof in Jesus stel, kan enige swaarkry of geloofskrisisse tegemoet gaan. Jesus sê self: ‘Ek het gekom dat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed’,” het hy afgesluit.



