Local news

Sokkies van Hoop bring warmte en waardigheid aan kinders

Die NHK Randfontein Midpark en die Ramtinkies se gesamentlike Sokkies van Hoop-veldtog is 'n sukses en talle kinders ontvang broodnodige skenkings as gevolg hiervan.

Die Ramtinkies, Laerskool Randfontein se junior koor, het saam met die Nederduitsch Hervormde Kerk Randfontein Midpark kouse ingesamel vir The Bethany House Trust, ’n kinderhuis in Krugersdorp.

Dr Johan Bester, leraar van die kerk, het vertel dat hulle reeds vroeg verlede maand met die Sokkies van Hoop-veldtog begin het, met die doel om soveel as moontlik nuwe pare sokkies in te samel.

Die donasies wat aan The Bethany House Trust geskenk is. Foto ingestuur.

“Die lidmate van Midpark, asook die Ramtinkie-ouers, leerders en onderwysers het ongelooflike vrygewigheid getoon, en binne ’n paar dae is baie sokkies geskenk.

Die projek het nie net in noodsaaklike items vir kinders voorsien nie, maar het ook waardevolle lesse oor omgee en gemeenskapsbetrokkenheid aan die Ramtinkies geleer,” het Johan gesê.

Die kouse is op 1 Junie aan die kinderhuis oorhandig.

“Ons is baie trots op ons gemeente, die junior koor en hul families. Hierdie projek het oor meer as net kouse gegaan – dit het gegaan oor die boodskap dat elke kind gesien en waardeer word,” het Lynn Bootha, die kerk se woordvoerder, bygevoeg.

Sy het afgesluit, “Dit is ongelooflik wat bereik kan word wanneer ons saamwerk. Hierdie samewerking met Midpark wys dat goedhartigheid geen grense ken nie. Ons hoop om in die toekoms weer soortgelyke projekte aan te pak.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button