Held van die pad: Oom Piet binnekort reg vir slaggate ná tref-en-trap
Oom Piet se tref-en-trap insident skrik hom nie af nie en beplan hy om weer vinnig slaggate reg te maak.
Al is Oom Piet Lottering steeds besig om te herstel nadat hy deur ’n bakkie getref is, bly hy toegewyd daaraan om slaggate reg te maak en vir inwoners se veiligheid te veg.
Ongeveer drie maande gelede was Oom Piet besig met herstelwerk aan slaggate op die Ventersdorppad in Loumarina toe ’n voertuig hom skielik getref het.
Hy is daarna hospitaal toe, waar ’n dokter bevestig het dat daar inflammasie in sy heupspiere is. Toe die pyn vererger, het hy ’n tweede dokter besoek en medikasie ontvang om dit te verlig. Vir ’n tyd lank was hy selfs in ’n rolstoel.
• Lees ook: Oom Piet en span al weer ‘op ‘n rol’
Ongeveer drie weke gelede het hy ’n spesialis gesien.
Volgens hom het die spesialis verduidelik dat ’n senuwee tussen sy spiere en rugwerwels vasknyp. Hy het ’n inspuiting ontvang wat, volgens hom, die pyn met 80% verminder het. “Vir die eerste keer in ’n lang tyd kon ek weer loop,” het hy gesê.
Hy moet oor drie weke weer hospitaal toe gaan vir opvolgbehandeling.
“Ek is nou halfdag weekliks terug by my hardewarewinkel. Ek voel heelwat beter, maar ek het nog ’n pad van herstel om te stap,” het hy verduidelik.
• Lees ook: Noordweg-pad kry nodige aandag, maar Oom Piet kort hulp
Hoewel sy toestand verbeter het, is Oom Piet steeds bekommerd oor sy mediese uitgawes aangesien hy nie by ’n mediese fonds is nie.
Maar hierdie voorval het hom nie van sy missie afgekeer nie.
“Ek gaan nie ophou nie. As die pad gevaarlik is, sal ek sorg dat dit reggemaak word. Ek is nie afgeskrik nie. Ek wag net tot ek heeltemal herstel het, dan pak ek die dreine naby Ventersdorppad aan. Ek wil graag dankie sê aan die inwoners wat reeds donasies gegee het. Daardie mense se harte is van goud gemaak,” het hy gesê.
Indien iemand ’n donasie wil maak, kan hulle Oom Piet skakel by 083 275 8731.



