Nuwe naam vir skou bring groot opwinding: Randfontein Gouefees!
Randfontein kan weer uitsien na 'n skou in 2026 nadat die nuwe naam onthul is.
Die Randfontein Publisiteitsvereniging (RPV) het ná heelwat debattering uiteindelik die wenner aangekondig van die kompetisie om ’n nuwe naam vir die voormalige Randfontein Skou te kies.
Matiam van Vuuren, ’n lid van die RPV, het gesê, “Na ’n intense kompetisie, naelbytende spanning, lekker lag en meer drama as ’n sepie-marathon het ons uiteindelik ’n naam vir ons nuwe baba!”
Marinda Collins is aangewys as die wenner met haar inskrywing: Randfontein Gouefees. Sy het op 15 Julie haar prysgeld van R2 000 ontvang.
“Dankie aan elkeen wat deelgeneem het, ons laat lag het en weereens bewys het dat briljantheid, kreatiwiteit en ’n bietjie chaos ’n lang pad gaan,” het Matiam gesê.
Hy het afgesluit, “Ons het ’n nuwe baba – die skoufees wat ons nou moet bou en grootmaak. Dit gaan moeilik wees, maar die komitee sien uit na die uitdaging. Ons hoop om elkeen van julle vanaf 27 Februarie tot 1 Maart 2026 by die Randfontein Gouefees te sien!”



