Local news

Maak reg vir fees en vleis: Gewilde Vleisfees om die draai

Daar is groot opwinding en verwagtinge vir vanjaar se Vleisfees by die Tuinhekkie op 2 Augustus, die vyfde van sy soort.

Die woord op almal se lippe dié tyd van die jaar is die Vleisfees, aangebied deur die Sionspoort Hervormde Kerk by die Tuinhekkie op 2 Augustus.

Die Tuinhekkie is op die hoek van Lazaar- en Merweweg in Elandsvlei-Hoewe. Die hekke open om 08:00 en die fees duur tot laat.

“Ons kan nie wag om weer besoekers van Randfontein en omliggende areas by ons jaarlikse Vleisfees te verwelkom nie,” sê mediabestuurder van die fees, Appel Ernst.

Bobby van Jaarsveld.

“Ons Vleisfees is hierdie jaar al ses jaar oud. In 2020 kon dit ongelukkig nie plaasvind nie weens Kovid. Die komitee werk regdeur die jaar om seker te maak die gemeenskap kan ’n dag van pret en plesier beleef.”

Daar sal nie net hope vleis wees nie – meer as 350 uitsoekstalletjies bied alles van klere, leerprodukte en juweliersware tot unieke handgemaakte items aan vir die kieskeurige koper.

Adam Tas.

“Ons het vanjaar vir bekende TV-sjef Tommy ‘Vaatjie’ wat die nuwe toevoeging tot die fees – die Crown National vertoonkombuis – gaan beman. Hy sal heerlike disse voorberei, insluitend krokodil in ’n skottelbraai. Uitsoeklammers gaan op die spit wees, en groot pryse wag vir die wenlammers,” sê Appel.

Hennie en Die Kitaarkêrels.

Ander aktiwiteite sluit ’n veeskou en hoenderskou in, sowel as kos wat enige fynproewer se hart vinniger sal laat klop – pap en kaiings, skilpadjies, krokodil, en verskeie vleise op die spit. Daar sal ook pannekoek, vetkoek, koeksisters, sosaties, kerrie en rys, en talle ander lekkernye wees. Die veteraanmotorskou en ’n goed toegeruste kinderspeelarea sorg vir vermaak vir oud en jonk.

John Rock Prophet.

Volgens Appel spog die Vleisfees vanjaar met twee groot verhoë waarop van die land se topkunstenaars gaan optree. Onder hulle is Prop, Bobby van Jaarsveld, Wynand en Chereé, Ivan Roux, Adam Tas en vele meer. Seremoniemeesters op die verhoë is Vanes-Mari, Liane ‘Boeboe’ Heyl en Anton Fichat. Deur die dag sal Hennie de Bruyn en Die Kitaarkêrels sorg dat die voete jeuk. Dans-, judo- en akrovertonings deur plaaslike klubs word ook in een van die arenas aangebied.

Liane ‘Boeboe’ Heyl.

“Moenie hierdie heerlike familiekuier misloop nie. Bring jou hele gesin en kom kuier saam met ons,” nooi Appel.

Ander kunstenaars wat ook optree sluit in Zoé, Marno van der Merwe, Caitlyn Mitchell, John Rock Prophet, Marko le Roux, Daemian Lee, Shané Fraenkel en JP Dix. Daar is ruim veilige parkering beskikbaar, en die terrein sal voldoende belig wees vir die aandaktiwiteite.

Marno van der Merwe.

“Ons vra vriendelik dat geen koelbokse of eie eet- en drinkgoed ingebring word nie. Daar is genoegsame sekuriteit, en ons sal die nodige wetgewing toepas om ’n veilige omgewing vir almal te verseker,” sluit Appel af.

TV-persoonlikheid, Kwêla-aanbieder en die MC by vanjaar se Vleisfees, Vanes-Mari.

Wat toegang betref: Voorskoolkinders kom gratis in, laerskoolleerders betaal R30, en hoërskoolleerders en volwassenes R50.

Marko le Roux.

• Kontakbesonderhede:
Uitstallers (slegs WhatsApp): 071 217 5188
Algemene navrae: 067 763 8842
E-pos: info@sionspoortvleis.com
Facebook: SionspoortVleis
Instagram: @sionspoort_vleisfees

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button