Local newsUpdate

Legende Anna vier haar 95e: Deel ’n leeftyd van herinneringe

Ná die viering van haar 95ste verjaarsdag en die bereiking van verskeie lewensmylpale, deel Anna van Niekerk haar raad vir ’n lang en vervulde lewe, asook kosbare herinneringe.

Anna van Niekerk, ’n bekende bejaarde van Randfontein, het onlangs ’n merkwaardige mylpaal bereik toe sy haar 95ste verjaardag gevier het.

Die Randfontein Herald het by haar gaan inloer om te hoor hoe dit gaan. Sy het met lewenslus en helder herinneringe stories oor haar kinderjare gedeel.

Anna, gebore op 16 Julie 1929 in die Vrystaat, het vertel dat dit in haar kinderdae algemeen was vir kinders om op ’n plaas groot te word. Sy, haar vyf susters en twee broers het die plaaslewe baie geniet.

“Ons was redelik arm, want geld was skaars. Maar in terme van onafhanklikheid het ons genoeg gehad. Ons het ons eie hoenders gehad en my pa het weekliks skaapvleis gemaak vir die gesin,” het sy vertel.

• Lees ook: Veels geluk liewe Tannie Anna …

Dit was egter nie altyd maklik of gerieflik nie. Volgens Anna moes die dogters net soos die seuns hul deel doen op die plaas.

“Almal, seuns en dogters, moes hul kant bring met werk op die plaas. Ons is nie gespaar van harde werk bloot omdat ons meisies was nie en het selfs met osse en donkies die landerye geploeg.”

Anna sê onderwys in haar tyd was nie so gevorderd soos vandag nie. Die meeste kinders het skool toe geloop, terwyl net enkeles ’n klein ossewa gebruik het wat deur die destydse departement van onderwys voorsien is. Sy onthou dat, gedurende haar laerskoolloopbaan, leerders van Sub A tot en met Standerd Vyf saam in een klaskamer was, met net een onderwyser.

Haar hoërskoolloopbaan het haar liefde vir sport gevorm. Anna is as Victrix Ludorum vir atletiek aangewys, en het tydens die interhoër ’n derde plek behaal. Ná skool het sy besluit om sagtebal aan te pak.

• Lees ook: Anna is 92, maar steeds lus vir die lewe

Ná haar matriek het sy by ’n poskantoor in Pretoria begin werk, waar sy haar lewensmaat by ’n sosiale geleentheid ontmoet het. Hulle was 50 jaar getroud voordat hy in 2013 oorlede is.

“Ek het ’n baie goeie huwelik gehad waaruit ons drie dogters het. My man het destyds in die staalbedryf gewerk en gehelp om ’n kerk in Middelvlei te bou,” het sy gesê.

Anna het tans sewe agterkleinkinders.

“Ek voel nie so oud nie. Ek doen alles steeds self. Ek kook my eie kos en brei nog so nou en dan. Ek bly lekker en hou myself besig. Ek doen alles wat ek altyd gedoen het, net stadiger,” het sy gesê.

Sy het ook haar filosofie gedeel oor hoe sy hierdie leeftyd bereik het.

“Moet nooit net stilsit en sê jy is te oud nie. Die Here gee ons die genade om ons jare te geniet. Op hierdie ouderdom kon ek bedlêend gewees het. Die sleutel is om nooit staat te maak op jouself nie, maar eerder op die Here. Vra vir Sy leiding voor jy ’n besluit in die lewe maak. Dien die Here en alles sal uitwerk,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button