Local news

Van een eeu na die volgende – Hester deel haar lewenslesse op 100

Hester Landman, ’n Randfontein-inwoner van die afgelope 55 jaar, het onlangs haar 100ste verjaarsdag gevier en deel graag haar wysheid met die jonger generasies.

Hester Landman het op 24 Julie haar 100ste verjaarsdag gevier en haar lewensreis met die Randfontein Herald gedeel.

“Honderd jaar was op my wenslysie. In my gees voel ek 50 jaar oud, maar my liggaam werk nie altyd saam nie. Ouderdom is nie vir sissies nie – nou begin ek verstaan waarvan almal praat,” het sy met ’n lag gesê.

Hester en haar man was 69 jaar getroud. Twee weke ná hul 69ste huweliksherdenking is haar man oorlede weens gesondheidskomplikasies. Hulle het drie seuns en een dogter saam grootgemaak, maar sy moes al van haar twee oudste seuns afskeid neem.

Sy vertel met ’n glimlag dat haar dogter, seun en kleinseun almal hul huweliksherdenkings op 17 September vier – dieselfde datum as haar eie. Een van haar kosbaarste herinneringe is aan hul 60ste huweliksherdenking, toe haar dogter die hele gesin op ’n lugballonvaart geneem het.

Hester se dogter, Carol Hefer, saam met Hester en haar seun, Norman Landman

Hester woon al 55 jaar in Randfontein. Sy word deesdae deur haar dogter versorg en sê sy is baie gelukkig in haar privaat ouetehuis.

“Ek is baie lief daarvoor om groot fillet-lappe te hekel – dit hou my gedagtes bymekaar. Maar ek kan ongelukkig nie meer die fyn werk sien nie, en het vier maande gelede begin inkleur om myself besig te hou,” vertel sy.

Hester het haar eeufees rustig saam met haar naaste familie tuis gevier.

Haar raad aan jongmense is eenvoudig, maar wys: “Leef elke dag voluit, en as jy wil hê ’n verhouding moet werk, moet albei partye alles gee en nie tou opgooi nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button