RAM-oudonderwyser met meer as 40 jaar se ervaring, sterf
RAM en die gemeenskap treur: Kobus van Wyk, geliefde onderwyser met meer as 40 jaar se ondervinding in onderwys is oorlede.
Jarelange inwoner en voormalige onderwyser by Laerskool Randfontein, Kobus van Wyk, is in die ouderdom van 69 oorlede.
“Hy was ‘n goeie mens en het vir mense omgegee. Ek is in ‘n rystoel en hy het my altyd gehelp en gesê ek lyk goed,” het Trudy, Kobus se vrou, gesê.
Op 30 Junie is Kobus oorlede aan hart- en nierversaking. Trudy het genoem hy was baie siek maar steeds hard geveg. Op 17 Julie sou die paartjie hul 43e huweliksherdenking gevier het.
Trudy het vertel dat Kobus al onderwyser by RAM was toe hulle getroud is en dat hy ‘n passie vir onderwys gehad het, met meer as 40 jaar ondervinding.
“Daar is baie kinders wat hy onderrig het. Hy word gemis. Ek sal hom altyd onthou,” het Trudy afgesluit.



