Local news

Op pad na Spanje: 800km vir ’n goeie doel

'n Bekende veearts van Randfontein en sy metgesel is gereed om die Camino de Santiago in Spanje aan te pak, met die doel om bewusmaking te skep vir die werk wat No More Tears Animal Rescue doen.

Plaaslike veearts Dr Johan Naude en metgesel Yolandi Viljoen is op pad om aan die Camino de Santiago, ‘n 800km pelgrimstog, in Spanje deel te neem.

Johan het genoem die tog het verskillende beginpunte en hulle gaan die Franse-weg aanpak. Dit begin in Saint-Jean-Pied-de-Port en eindig by die Santiago de Compostela Katedraal. Hulle gaan vir ‘n maand stap van middel Augustus tot middel September.

“Alhoewel ek bekend is vir my avontuurlus en aktiewe leefstyl sal hierdie die eerste keer wees wat ek ‘n pelgrimstog aanpak, spesifiek die Camino de Santiago. Die liefde vir stap behoort eintlik aan my metgesel, maar ek staan nooit terug vir ‘n uitdaging nie. Ek sien ook daarna uit om die oudhede en klein dorpies te verken,” het Johan vertel.

Om voor te berei vir die tog het Johan elke naweek sy rugsak gepak en gaan stap om sy voet-fiksheid te verbeter. Hy het genoem fisies en simbolies moet hulle besluit wat hulle wil saamdra, beide ‘n stapper se rugsak en gemoed moet lig wees.

Dr Johan Naude en Yolandi Viljoen. Foto ingestuur.

“Vir my gaan die Camino oor volharding. Om op te staan elke oggend, ongeag hoe moeg jy is en net weer aan te stap. Dis nie ’n prestasie vir die wêreld nie dis ’n oefening in deurdruk, in die klein oorwinnings elke dag. Ek wil vir myself bewys dat ek kan aanhou, selfs as dit ongemaklik of moeilik raak. Dis hoe jy leer om dinge te oorkom, nie in een groot gebaar nie, maar tree vir tree,” het Johan verduidelik.

Hy het bygevoeg, hoewel die stap nie ‘n fondsinsameling is nie, gaan hy No More Tears Animal Rescue saam met hom dra en hul kenteken op sy stapklere vertoon om bewusmaking te skep.

“Hulle doen ongelooflike werk in ons gemeenskap en as ek kan help om net een persoon nuuskierig genoeg te maak om hul blad te besoek, dan was dit die moeite werd,” het hy genoem.

Die gemeenskap kan hul proses volg op of die Randfontein Dierehospitaal of No More Tears Animal Rescue se Facebook-blaaie.

“Die Camino is meer as net ’n staproete, dis ’n innerlike reis wat jou liggaam, siel en verstand toets en vorm. Vir meer as ‘n duisend jaar volg pelgrims hierdie pad, sommige op soek na geestelike verdieping, ander om hulself te vind, te soek na genesing of bloot om deel te wees van iets groter as hulself,” het Johan afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button