Dianty se stryd teen leukemie kry ondersteuning van Teine en inwoners
Randfontein Rugbyklub, saam met meer as 200 gemeenskapslede, het bygedra tot die ondersteuning van Dianty da Silva en haar gesin tydens 'n fondsinsameling en skenkerregistrasie.
Dianty da Silva is verlede September vir die eerste keer met Akuut Limfoblastiese Leukemie gediagnoseer.
Hoewel sy dit die eerste keer oorwin het, het die familie einde Mei die nuus ontvang dat die kanker terug is.
Randfontein Rugbyklub het intussen uitgereik na klein Dianty met donasies in die hoop om haar behandeling te help.
Volgens Hennie van Eck, mede-afrigter van die eerste span, was Dianty weens hospitalisasie nie self teenwoordig nie en het haar ma, Dina, die oorhandiging ontvang. Dit het plaasgevind tydens die eerste span se wedstryd teen Pirates Rugbyklub.
“Aangesien die klub vir die gemeenskap is, het ons gevoel dit is ’n geleentheid waar ons weer kan hulp verleen,” het Hennie gesê.
• Lees ook: Westgold shows kindness to little warrior Dianty (4)
Die klub het ’n spaarbussie by die kroeg geplaas en kliënte bewus gemaak van Dianty se stryd. Op die dag van die oorhandiging het die spelers ook in oranje kouse gespeel vir bewusmaking.
Dianty se pa, Tony, het gesê hulle is baie dankbaar dat die klub betrokke geraak het.
“As ’n pa en man het ek nog altyd baie respek gehad vir Randfontein Rugbyklub se spelers en raad. Ons weet nie wat vir ons voorlê met die beenmurgoorplanting en die medisyne daarna nie, maar elke liewe donasie help.”
Hennie het bygevoeg dit was ’n spanpoging en dat almal hul betrokkenheid getoon het.
“Ons hoop dat dit wat ons vir Dianty kon insamel ’n verskil maak met hul mediese onkostes,” het hy gesê.
Op dieselfde dag, 6 September, het die nie-winsgewende organisasie DKMS Africa ook ’n inisiatief aangebied waar moontlike beenmurgskenkers kon registreer. Tony het genoem dat meer as 200 mense met wangdeppers getoets is.
• Lees ook: Young leukaemia patient (4) seeks life-saving donor
“Vir die gemeenskap wat uitgekom het, wil ons dankie sê. Dit gaan nie net oor Dianty nie, maar ook oor honderde ander kinders daar buite. Ons as ouers is dankbaar vir die ongelooflike ondersteuning – mens kan dit nie in woorde omsit nie. Ons dank God natuurlik heel eerste. Hy het mense oor ons pad gestuur wat nie twee keer gedink het om te help nie,” het Tony gesê.
Hy het verduidelik dat Dianty drie weke gelede in die hospitaal opgeneem is nadat sy sere in haar mond gekry het as gevolg van intensiewe chemoterapie. Sy het twee verskillende behandelings vir vyf dae ontvang. Ten spyte daarvan, het Tony gesê, hou niks haar terug om elke dag te lag en te speel nie. Haar bloedtelling neem ook toe en as dit so aanhou, kan sy teen die naweek huis toe gaan. Sy sal dan ’n week se rus kry voordat sy met immunoterapie begin, wat weer ongeveer 28 dae in die hospitaal sal verg.
“Vir nou het ons net gebed nodig vir Dianty – dat die Here sal aanhou om haar te dra soos Hy doen,” het hy afgesluit.
Daar sal ook twee fondsinsamelinge vir Dianty wees: een by Ruimsig Country Club en ’n vertoning by Barnyard Silverstar aan die einde van Oktober. Tony het bygevoeg dat daar nog 50 kaartjies beskikbaar is vir die vertoning.



