Opedag wys Eenheid Baalsak se visie en samehorigheid
Die gemeenskap kom bymekaar om Eenheid Baalsak van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging beter te leer ken.
Die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) se Eenheid Baalsak het onlangs ’n opedag gehou om hulself aan die gemeenskap bekend te stel.
Visievoorsitter van die SAWV se Sektor 1.5 Koraalboom, Rina Marais, sê die doel van die geleentheid was om bewusmaking te skep vir hul eenheid. Daar is ook groente geplant wat aan die veterane beskikbaar gestel gaan word.

Sy verduidelik die idee vir die groentetuin kom uit ’n voedselprojek waarmee hulle tans besig is.
“Eenheid Baalsak is maar pas weer op die been, en ek kan beslis sê dat die eenheid tans suksesvol is. Natuurlik, soos by enige nuwe instansie, is daar groeipyne en uitdagings wat ons stelselmatig deurwerk,” het Rina vertel.

Sy het bygevoeg dat hulle elke maand ’n ontbyt of braai aanbied om kameraadskap te bou. Daar word ook erkenning gegee aan lede vir lewenslange lidmaatskap, wat aan 80-jariges oorhandig word.
“Die eenheid is daar waar lede mekaar bystaan in lief en leed. Ons ondersteun mekaar, en makkerhulp word altyd aangebied,” het sy gesê.



