Martin’s bederf hul oudste kliënt op 94ste verjaarsdag
Na 17 jaar as lojale kliënt het Jackie Marais haar 94ste verjaarsdag saam met Martin's Begrafnisondernemers gevier.
Op haar 94ste verjaarsdag is Jackie Marais bederf met ’n spesiale verrassing deur Martin’s Begrafnisondernemers in Randfontein – en dit omdat sy hul oudste kliënt is.
Marthie Griffiths, eienaar van Martin’s, vertel dat Jackie al jare lank deel van hul familie is. Sy het op 28 Augustus 94 geword en is al sedert 2008 ’n lojale kliënt van Martin’s.
Die verrassing is tydens die Lentefees by Vriendskap Tuiste, waar Jackie woon, op 6 September gehou.
“Die span van Martin’s het aan Jackie ’n spesiale geskenk oorhandig as ’n gebaar van waardering en om haar te erken as hul oudste kliënt – iemand met groot toewyding en ’n pragtige hart,” sê Marthie.
Op die vraag oor die geheim van ’n lang lewe, het Jackie sonder huiwering gesê: “Ek praat die hele dag met God, ek is lief vir my Here en daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie aanhoudend met Hom praat nie.”
“Haar woorde weerspieël die geloof en toegewyde gees wat haar deur byna ’n eeu van lewe dra. Martin’s is dankbaar om saam met Jackie hierdie mylpaal te vier. Sy is nie net ’n kosbare kliënt nie, maar ook ’n inspirasie vir almal wat haar ken,” voeg Marthie by.
“Ons wens vir Jackie nog baie jare van gesondheid, vreugde en oorvloedige seëninge toe.”



