Meneer Cassie groet Riebeeckrand na meer as 10 jaar
Casper (Cassie) van der Walt was adjunkhoof en onderwyser by Hoërskool Riebeeckrand.
Na 10 jaar en ses maande groet die geliefde Casper (Cassie) van der Walt vir Hoërskool Riebeeckrand.
Die 60-jarige Cassie was die skool se adjunkhoof wat ook vir graad 8 tot 12 Afrikaans huistaal aangebied het, asook Lewensorientering vir die graad 12’s.
“Dit was baie lekker om by Riebeeckrand skool te hou. Dit is ‘n fantastiese skool met wonderlike leerders.”
Hy het vertel dat hy altyd die wonderlike saalopeninge van die skool sal onthou aangesien lofprysing en aanbidding nog altyd ‘n integrale deel van sy lewe was en hy dit met die kinders kon deel.
Ek sal altyd die samehorigheid en lojaliteit van die personeel onthou. Ek sal ook nooit vergeet hoe ek die personeel en leerders skrikgemaak het op die stoepe en klasse nie – dit het my baie plesier verskaf.”
Cassie het vele passies – hy is ‘n musikant en onderwyser wat goed saam met kinders werk en is daarom ook ‘n lofprysing- en aanbiddingsleier.
Hy onthou hoe die personeel hom bygestaan het tydens Covid. Hy was baie siek en die personeel was baie besorgd en het elke dag vir hom boodskappe gestuur. Hy het goeie vriende onder die personeel, ouers en leerders van die skool gemaak.
“Die skool is ‘n skool wat mekaar bystaan en vriendskappe koester. Die lekker kuiers op Vrydae met die pouse-etes en die manne wat altyd na ‘n wedstryd of byeenkoms gaan saam braai of kuier het was net awesome.”
Hy het verduidelik dat hy besluit het om af te tree want die Here het vir hom groot planne. Cassie het lankal sy graad in Teologie voltooi en wil nou voltyds die bediening betree.
“Ek wil met kinders werk en nie met administrasie gebombardeer word nie. Die onderwysdepartement vereis baie admin wat gedoen moet word. Ek sal steeds skoolhou waar daar poste is, maar ek wil ook meer by die kerk betrokke raak.”
Ek bid vir julle net die beste toe en glo dat Hoërskool Riebeeckrand nog ‘n groot skool gaan word. Wees positief en streef die skool se leuse na: Geanker in geloof.”



