
Ek het die voorreg gehad om oom Hennie te ken vanaf die vroeë sestiger jare, toe ek nog ‘n Graad 1’tjie was in Rapportryer.
Ek onthou hom as die vriendelike omie met die mooi goue ketting om die nek. Elke kwartaal was oom Hennie daar met die skoolopening en het hy ons op ‘n Christelike manier kom voorberei en moed ingepraat vir die tyd wat voorlê.
‘n Paar jaar later het ek eers geleer dat die mooi goue ketting beteken oom Hennie is die voorste kampvegter vir ons (destydse) pragtige, veilige en skoon dorp genaamd Randfontein. Oom Hennie was ook bekend en bemind onder die minder bevoorregtes; as iemand in die nood was, was oom Hennie daar. Menige van sy goeie dade het ongesiens verbygegaan omdat oom Hennie geglo het die regterhand weet nie wat die linkerhand doen nie. Hy het nooit daarmee te koop geloop nie, maar was altyd besig om iewers iemand in nood te help.
So het ek opgegroei en volwasse geword met die alomwetende feit dat oom Hennie iewers in Randfontein doenig is. Soms sien jy die bruin Datsun bakkie (wie het NIE daardie bakkie geken nie?) dan weet jy oom Hennie is naby, altyd gereed vir ‘n vinnige geselsie, moed inpraat of ‘n lewenslessie. Op 14 Januarie 1997 het die dood my gesin getref en is my vrou oorlede. Flink en met simpatie het oom Hennie die reëlings oorgeneem en als by die kerk vir my gereël met die volgende woorde aan my: “Theo moet jou oor niks bekommer nie oom Hennie is daar vir jou”. Sy troos en bystand het oneindig baie vir my en my kinders beteken.
Op 28 November 1929 het die Hemelse Vader dit goed gedink om oom Hennie Schoonwinkel aan die mensdom te leen en op 21 Januarie 2015 het die Hemelse Vader besluit oom Hennie se taak op aarde is nou klaar.



