Duisend dankies, Wynand
Die sekuriteitsmaatskappy het 'n goeie besluit geneem om 'n opregte man soos hy aan te stel.

• Elmarie van Staden skryf:
Ek is 62 en bly tans op Hillside-plotte.
Ek wil net gou my storie met julle deel. Ek gaan elke twee weke na ‘n winkel in Randgate toe want hulle het meer produkte as die winkel naby aan ons. Ek koop al my goedjies vir twee weke daar.
Ek het vanoggend in die Randgate-winkel na ‘n spesifieke sooibrandmiddel gesoek want my man kry gereeld sooibrand. Ek weet nie waar dit is nie en vra drie werkers daar, maar hulle weet nie waarvan ek praat nie. Tot my verbasing kom een van die sekuriteitspersoneel tot my redding en help my. Dis ongelooflik dat hy meer weet as die winkel se werkers.
Ek maak my inkopies klaar en gaan toe uit na my kar waar ‘n man wat items smous my heeltyd pla. En sowaar as wragtig help die sekuriteitsmannetjie my weer om hom weg te jaag!
Ek is al voorheen deur ‘n smous van my pensioengeldjies beroof. Met trane in my oë sê ek bitter baie dankie aan Wynand K. Ek ken nie sy van nie. Dis al wat op die kaartjie staan wat hy dra.
Die sekuriteitsmaatskappy het ‘n goeie besluit geneem om ‘n opregte man soos hy aan te stel. Duisend baie dankies, Wynand!



