Opinion

Ek ken ‘n plek sonder enige slaggate

Waar is die plek? In die RSA – redelik ver buite die grense/ gebied van Randfontein.

Ek besluit gedurende die skoolvakansie om ‘n paar dae uit te span en net sleg te wees.

Besluit toe op ‘n baie ‘eienaardige’ plekkie (êrens in RSA). Hoekom eienaardig? Ek verduidelik: Alreeds kilometers vanaf hierdie plek bevind ek myself op outydse, netjiese, gemerkte en rybare teerpaaie.

Duidelike bakens en naamborde vertel presies hoe ver ek nog moet reis en waar my bestemming is.

Die algemene netheid/ geordenheid van my bestemming/ die dorp tref my soos ‘n voorhamer.

Dit neem my vyf dae om presies agter te kom wat my eintlik kwel – geen bulderende voertuie wat roekeloos deur windgatte van punt A na B verkrag word nie, geen onnodige doellose wieltollery (doughnuts) nie, geen sotte/ morone wat moedswillig met onpadwaardige scrap die sypaadjies opmoer nie, geen moedswillige, ongeletterde taxi wat in die middel van ‘n vierrigting kruising sy oorgewig en steunende agterstevoor passasier op- of aflaai nie (o ja, daar is ook ‘n swetterjoel taxi’s), geen laatnag bulderende/ oorverdowende ‘woensdag-woensdag-woensdag’ VW Golfies met breinlose sotte agter die stuur wat doelloos die strate op en af jaag nie, geen bedelaars by die verkeersligte met handgeverfde, skewe, swak gespelde woorde wat uitskreeu hoeveel buite-egtelike kinders/ vrouens onderhou moet word en eindig met God bless joe nie.

Ander snaakse insidente wat ek ook opgemerk het is: klokslag, twee-uurliks (dag en nag) maak ‘n wit bakkie met ‘n wit kappie en blou en geel strepe langs die kante geverf met die woord Police daarop sy verskyning en ry heen en weer deur die hele woongebied.

Snaakse/ onbekende gewoonte hierdie! Presies 7vm verskyn werkers op straat met besems en vee die strate waar pad en sypaadjie ontmoet. Wat my hier as baie eienaardig getref het, is almal vee en nêrens lê vyf of ses hulle besems se stokke af nie.

Snaaks nê! ‘n Ander ongelooflike geval (glo my asseblief – ek het die gebied kruis en dwars deurgestap) is geen, maar geen slaggate êrens in enige straat nie.

Waar is die plek? In die RSA – redelik ver buite die grense/ gebied van Randfontein.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button