Dis hoe ek braai!
News- en Herald-redakteur vertel van sy braairitueel want Braaidag is hier.
Braai is ‘n kuns.
Soos Picasso, Rembrandt en Leonardo da Vinci vir ure lank by hul esel kon sit met ‘n verfkwas in die hand kan ek dieselfde doen met ‘n braaitang langs die braaivleisvuur. Ek moet bieg dat dit ure langs die vuur kan verg om tot die braai oor te gaan, maar dis mos waaroor dit gaan, né manne?
Die liedjie Hardekole verduidelik die ritueel. “Manne dis ‘n voorreg, Om ‘n hardekool te deel, Al die bloedbroers bymekaar, en waar die vlamme vriendskap seël.”
Die lekker ding van braai is dat daar nie ‘n regte of verkeerde manier is nie. Net jou manier.
Hierdie is myne …
Dit begin alles met die opbou na ‘n braai. Ek droom soms al die Maandag oor wat ek die Saterdag gaan braai.
Mens moet vroeg begin beplan waar jy gaan braai, hoe laat en saam met wie. Dis gewoonlik by jou eie huis.
Die tyd hang van verskeie faktore af. Is daar werk om te doen? Het mevrou planne gemaak? Hopelik nie want sy weet mos dis Saterdag. Speel die Stormers of die Bokke?
Dan kom die inkopielys. Wat gaan ek braai?
Dis ‘n moeilike een want ek wil alles braai wat ek in die slaghuis sien. Ek vat gewoonlik ‘n bietjie van als en dit wat oorbly eet ons Sondag – nog ‘n probleem opgelos.
Sewe uur voor die pelle kom en die wedstryd afskop is die skaaptjoppies, boerewors en hoendersosatie (verkieslik in ‘n lekker marinade of met ‘n brandsous) in die yskas. O ja, die koues ook. Ek verkies maar alles in die yskas. Ander manne nie. Jou keuse.
Nou moet jy die regte klere aantrek. Die broek met sakke aan die kant moet so kort as moontlik wees want dit raak warm voor die vuur. Dis ook vir later wanneer mens dalk ‘n bietjie gaan sokkie.
Dan kom die hemp – met kort moue. Ek verkies een van my 10 Stormers-truie. Dan plakkies en ‘n hoed want die son gaan jou piets.
Dan die braaiuitrusting.
‘n Voorskoot is ‘n moet. Weereens met óf die Disa op vir die WP of die Stormers-wapen of ‘n Springbok. Ouma se blommetjie-een sal ook doen.
Nou gaan ek braai. In die voorskoot se voorste sak is al die speserye. Ek verkies Worcester Sauce se Braai Mix en garlic herb wat ek gebruik vir alle vleis (hoender, tjops en selfs boerewors) Talle manne gebruik nie geurmiddels op hul wors nie, maar probeer dit gerus! Die steak kry net sout en peperkorrels (asb nie fyn peper nie).
Vir die vuur gebruik ek brikette. Met houtskool hou die vuur net vir twee minute en dit maak mense kwaad. Hout is natuurlik die meeste se gunsteling en die vleis smaak ook baie lekkerder. Die tipe hout is die ander debat. Daar’s kameeldoring, rooikrans, en swarthaak, maar die sogenaamde Jacques Kallis van braaihout is sekelbos. My ingeboude braai is te klein vir hout. Ek het eendag amper die hele kompleks afgebrand, die ligte het gesmelt en daar was oral rook.
Moet ook nie vergeet dat die area om jou moet mooi skoon wees – die braai self, die rooster en die vloer asook tafels. ‘n Groot asblik moet ook byderhand wees.
Nou gaan ons regtig braai.
Wat tel is hoe lekker jy die vleis laat smaak en jou gaste vermaak.
My sterkpunt is om hoender, boerewors en tjops te braai. Moet asseblief nie die hoender vooraf in die mikrogolfoond probeer gaarmaak nie. Of dit ‘n plathoender of ‘n klein hoenderboudjie is, maak net seker jy braai al die kante en wanneer ‘n kant gaar is geur dit met speserye en suurlemoensap. ‘n Skaaptjoppie se vet moet bros wees en die res sag. Draai maar eerder gereeld om en as die vleis gaar is, draai dit op die vetkant sodat dit kan bros braai. Solank alle pienk verdwyn het is die tjoppie reg. En wat is ‘n braai sonder ‘n boereworsie? Braai dit egalig todat dit nie meer rou en pienk is nie maar steeds sappig.
Lekker braai manne!



