BRIEF: Onteieningswet-beslissing ’n groot bron van kommer
'TLU SA glo hier is geleentheid vir besluitnemers om onthou te word as iemand saakmakend wat bouend Suid-Afrika gerig is, of as iemand wat aan die verkeerde kant van die geskiedenis staan.'
• Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder skryf:
Die veelbesproke en uiters omstrede Onteieningswet gaan binnekort ter tafel gelê word vir ’n beslissing in die Parlement om dit te aanvaar al dan nie.
Wanneer daar oor sulke belangrike sake besluit moet word besef mens net opnuut Parlementariërs het ’n baie groot verantwoordelikheid om te help om ’n toekoms te skep vir ons nageslag. Om dié rede het TLU SA onlangs ’n skrywe aan ANC-lede van die parlement gerig.
Dit is geen geheim dat die Onteieningswet, met ’n klousule wat voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding, ’n groot bron van kommer is, nie net vir boere en landbou nie, maar vir die land se ekonomie in geheel.
Ons ontken nie die nodigheid vir die land van ’n verantwoordelike Onteieningswet waar daar vir die behoefte van byvoorbeeld infrastruktuurontwikkeling wel grond onteien kan word nie, maar teen markwaardevergoeding. Dit is korrek en daar is begrip daarvoor. Die oomblik wanneer daar ’n benadering gevolg word waar grond onteien word sonder om daarvoor te betaal gaan die gevaarligte aan.
In die skrywe aan Parlementariërs verwys TLU SA na die ekonomiese implikasies.
Also read: UPDATE: ‘Land issue is a historical problem, they took the land with the barrel of a gun’
Suid-Afrika se ekonomiese groei is tans om verskeie redes baie swak, waaronder onsekerheid van die beleidsomgewing en die buitengewone hoë vlakke van misdaad seker die belangrikste redes is. Die gevolge is omvangryk waarvan een is dat werkloosheid jaarliks styg en daarmee saam grootskaalse armoede. Die enigste manier wat dit aangespreek kan word, is deur die ekonomie te groei.
Vaste beleggings is een van die belangrikste dinge wat nodig is om ekonomiese groei te verkry.
Die werklikheid is dat internasionale beleggers tans in afwagting staan om te sien wat gaan gebeur met onteiening sonder vergoeding. Geen persoon wat met nugtere denke ’n besluit moet neem om geld te belê, sal dit doen waar die staat jou bates kan neem sonder om daarvoor te betaal.
Daar kan seer sekerlik nie ’n groter negatiewe aspek wees wat ekonomiese groei gaan beperk as juis onteiening sonder vergoeding nie.
Ons sluit af met ’n ernstige versoek dat wanneer hulle oor hierdie wet stem elke persoon sy/ haar kinders en hul kinders se toekoms oorweeg as motivering hoekom sodanige wet nie ondersteun mag word nie. Die geskiedenis gaan hul keuse in dié verband beoordeel. Ons versoek is dat hulle volgens hul eie gewete stem en hierdie keer die land en sy inwoners se toekoms voorop stel en nie slaafs ’n denkrigting volg wat nog net armoede en baie hartseer veroorsaak het nie
TLU SA glo hier is geleentheid vir besluitnemers om onthou te word as iemand saakmakend wat bouend Suid-Afrika gerig is, of as iemand wat aan die verkeerde kant van die geskiedenis staan.



