Randfontein pluimbalspelers presteer in Rustenburg
Twee gesogte veteraan pluimbalspelers van Flamingo Pluimbalklub in Randfontein maak hul merk by die ope kampioenskappe in Rustenburg.
Twee van Randfontein se top veteraan pluimbalspelers, Elsie Höll en Ria Meyer, het onglangs aan die Suid-Afrikaanse Veteraan Ope Pluimbalkampioenskappe in Rustenburg deelgeneem en hulself baie goed van hul taak gekwyt.
Volgens Elsie, het dié kampioenskappe vanaf 3 tot 9 Augustus in Rustenburg plaasgevind.
“Die kompetisie was baie straf en ons het behoorlik ons hande vol gehad om ons merk in die kompetisie te maak, maar steeds het ons baie goed gevaar,” vertel Elsie trots.
Sy vertel dat beide sy en Ria tot die semi-finaal van die gemengde plaat afdeling deugedring het.
Ongelukkig was die kompetisie te sterk en hulle het beide in die semifinaal uitgeval.
“Ek het ook in die enkels-afdeling deelgeneem en tot die finaal deurgedring.
My opponent was baie rats en het my ongelukkig gewen, maar ek het steeds ‘n algehele tweede plek in die SA Enkelspel verower,” vertel Elsie.



