Michelle se akrobate blink uit
Die akrobate van Michelle’s Acrobatic Academy presteer puik tydens die Nasionale Iaaasa Akrobatiese Kampioenskappe.
Die akrobate van Michelle’s Acrobatic Academy het vanaf 23 tot 28 September aan die Nasionale Iaaasa Kampioenskappe in Fourways deelgeneem en spog met puik uitslae tydens dié gesogte kompetisie.
Volgens die eienaar van dié akademie, Michelle Oppel, vorm die kampioenskappe deel van die Integrated Artistic Acrobatic Association of South Africa (Iaaasa) se kompetisies en is dit teen van die strafste kompetisies waaraan enige akrobaat kan deelneem.
“Daar het 16 van my akrobate aan dié kampioenskappe deelgeneem,” sê Michelle.
“Die groep akrobate het tydens die geleentheid ‘n totaal van sewe goue medaljes, 18 silwer medaljes en sewe brons medaljes verower,” vertel Michelle trots.
Die groep akrobate van Michelle se akademie bestaan uit Alichia-Lee Claassens, Shannon Codison, Michelle Coombe, Chionisa Flowers, Jennifer-Lee Gerber, Lee-Ann Grobler, Sherinae Hoffman, Tyler Jansen van Vuuren, Celine Malan, Neelandri Nel, Zené Nel, Jean-Pierre Oppel, Angelique van der Walt, Donné van der Walt, Chané van Niekerk en Beloved Sechele.
Jean-Pierre het eerste in sy afdeling geëindig.
Hy het in die Novice A afdeling vir deelnemers tussen ses en nege-jaar-oud meegeding en moet nou oorskuif na die B afdeling toe.
Chané was afdelingwenner in die 9-12 jaar Novice A afdeling en sal ook volgende jaar in die B afdeling deelneem.
Michelle het tweede in die Pre-Intermediate afdeling vir deelemers ouer as 16-jaar geëindig en sal volgende jaar in die Intermediate afdeling meeding.
Neelandri, wat in die pre-novice kategorie vir deelnemers tussen 12 en 16-jaar deelgeneem het, het ook ‘n tweede plek verower terwyl Beloved Sechele ‘n tweede plek in die Novice kategorie in dié ouderdomsgroep behaal het.
Donné van der Walt, Jean-Pierre Oppel, Chané van Niekerk en Beloved Sechele het ook almal tydens die geleentheid hul Iaaasa klere verower.
“Ek is baie trots op elkeen van my akrobate.
“Baie geluk met jul prestasies en dankie vir julle harde werk en getroue oefening,” vertel Michelle.



