Video: Randfontein-renjaers by Zwartkops
Mackie Adlem en Ben Morgenrood wys weer waar Dawid die wortels gegrawe het.
Randfontein-renjaers Mackie Adlem en Ben Morgenrood was onderskeidelik tweede en eerste in een van die wedrenne tydens ‘n byeenkoms op die Zwartkops-renbaan net buite Pretoria.
Morgenrood, wat reeds vier keer die Suid-Afrikaanse Sport en GT Motorsport titel ingepalm het, het vir die eerste plek en Adlem vir die sesde plek op die wegspringrooster gekwalifiseer.
Halfpad deur hulle eerste wedren van die dag en na ‘n belowende begin moes Morgenrood ongelukkig tou opgooi nadat sy motor se petrolpomp die gees gegee het. Hy loop toe egter reeds met sowat 20 punte voor in vanjaar se kampioenskappe.
Adlem het in dié wedren derde geëindig en vir Randfontein ‘n plek op die podium verseker.
Na die eerste wedren het Morgenrood se span motorwerktuigkundiges die petrolpomp blitsig vervang en kon hy die tweede wedren aandurf.
In die tweede wedren van die dag het die renjaers op ‘n gedeeltelik omgekeerde wegspringrooster begin. Morgenrood het homself sesde op die rooster bevind met Adlem in die agste plek.
Na 12 rondtes om Zwartkops se bedrieglike draaie het Morgenrood eerste oor die wenstreep gejaag met Adlem in ‘n welverdiende tweede plek.
Adlem spog met ‘n algehele tweede plek op die algehele punteleer vir die dag en weens Morgenrood onverwagte teëspoed in die eerste wedren moes hy met ‘n algeheel sesde plek vir die dag tevrede wees.
Verwante artikels:
- Mackie destined for glory
- Kan iemand Ben keer?
- Morgenrood on his way to title glory
- Morgenrood takes the win in Cape Town
Besoek ons gallery vir nog foto’s.



