Ontmoet-‘n-Teine-Boytjie: Itu Mpete
Randfontein Rugbyklub se linkervleuel in die eerste span stel homself aan die gemeenskap voor in die Ontmoet-'n-Teine-Boytjie-reeks.

Randfontein Rugbyklub se eerste span vleuel, Itu Mpete is ‘n spoed- en drieëvraat van formaat.
Die 30-jarige Itu is al vir meer as twee jaar ‘n lid van die klub se eerste span en sy liefde vir rugby het in 2002 vlamgevat toe hy in graad 3 was.
“In 2010 het ek deur ‘n moeilike tyd gegaan. Rugby se dissipline en uithouvermoë het my geleer om ‘n beter persoon te wees op, en van die veld af. My bron van motivering is rugby, en wanneer ek die sport beoefen voel ek goed. Ek weet God het ‘n plan met my loopbaan,” het Itu uitgedruk.
• Lees ook: Ontmoet-‘n-Teine-Boytjie: Barend Beyleveld
Itu se doelwit by die klub is om ‘n verskil en bydra te maak. Sy prestasies spreek boekdele en in 2023 is hy as Beste Speler van die Jaar as agterspeler in die eerste span aangewys.
Hy streef daarna om die gemeenskap trots te maak deur eerstens, vir die Pirates Groot Uitdaag-reeks te kwalifiseer en tweedens, die liga te wen en daarna die Goue Beker weer omhoog te hou, die keer vir Teine. In 2019 het Itu vir Rustenburg Impala uitgedraf en toe die Goue Beker gewen.
• Lees ook: Ontmoet-‘n-Teine-Boytjie: Janco Tiedt
Itu se grootste motivering op die veld is wanneer die skare sy naam skreeu. Natuurlik geniet hy dit ook om drieë te druk – iets wat hy baie gereeld doen. Van die veld af hou hy daarvan om tyd saam met sy verloofde deur te bring, PlayStation te speel en musiek te maak, veral kletsrym.
Toe hy gevra is wie sy rolmodel is, het hy gesê sy toekomstige self.
“Hou asseblief aan om die rugbyklub te ondersteun. Ons sal aanhou wen vir ons gemeenskap. Ons kan nie sonder julle nie,” het Itu vertel.