73-jarige bereik sy doelwit om ‘n 42km marathon te voltooi
’n Toekomsrus-inwoner het onlangs aan die Soweto-marathon deelgeneem en hoop om ander met sy prestasie te inspireer.
Michael Botha laat nie sy ouderdom in sy pad staan om ‘n marathon in rekordtyd te hardloop nie en hoop om ander deur sy deursettingsvermoë te motiveer.
Michael het die Soweto-marathon in ‘n tyd van 4:38:00 voltooi. Hy het gesê hy het lank reeds die begeerte gehad om ‘n 42 km-marathon te voltooi en op 3 November het hy dit reggekry. Hy het gesê sy geheim was om net nooit moed op te gee nie, hy het aangehou oefen.
Hy het genoem dat hy eers begin het deur te loop en toe te draf. Sy eerste marathon was 10km by Hartbeespoortdam. Hy het hierdie marathon in een uur voltooi en daar het die gogga hom gebyt.
“Moet nooit moed opgee nie, jy moet die dissipline en toewyding hê om op dreef te bly. Ek sien dit as ‘n groot prestasie om hierdie marathon op 73 te voltooi en ek hoop om ander te motiveer wat nie gedink het dit is moontlik nie,” het Michael gesê.
Sy eie motivering is om te onthou dat ‘n mens nooit te oud is om jou doelwitte te bereik nie. Hy het ook genoem dat hardloop goed is vir ‘n mens se gesondheid. Hy het bygevoeg dat hy hoop sy prestasie motiveer jong mense om te hardloop in plaas daarvan om by misdaad betrokke te raak.
Michael het nou ook gekwalifiseer om volgende jaar aan die Comrades Marathon deel te neem.



