Nuwe sosiale hengelklub vestig hulself in Randfontein
Springbok Baits Sosiale Klub maak reeds opslae by die viswater.
Springbok Baits Social Club wys reeds wat hulle kan doen, hoewel hulle nog in die vroeë stadiums is.
Pieter Schemel, voorsitter van die klub, het verduidelik dat hulle tans 25 lede het en een keer per maand probeer visvang.
Op 1 Februarie het 12 van die klub se lede aan Heartsease by die Vaaldam deelgeneem. Mark Mans het met die swaarste sak weggestap; die totale gewig van 13.6kg.
Ander lede van die klub het ook goed gevaar. Hulle het met Springbok Baits gevang, vir ball dips het hulle Ruby Red, Thumbs up en Kdo2 gebruik en op die hoeke het hulle Kdo2 en knoffelpasta gebruik.
“Dit was ‘n moeilike dag. Oor die algemeen is die Vaaldam moeilik, maar ons het darem vis gekry,” het Pieter gesê.
Braam Stolz, eienaar van Springbok Baits asook die klub, het verduidelik dat hulle regdeur die jaar aan pro-manie hengelkompetisies deelneem en mense wat by die klub wil aansluit moet weet hoe om te hengel.
Enige persoon wat belangstel om by die klub aan te sluit, kan Pieter by 065 241 8553 of Rudie Dreyer by 082 850 1681 kontak.



