Teine begin voorseisoen op hoë noot
Teine se Arende het die Impalas van Rustenburg ore aangesit tydens 'n reeks vriendskaplike wedstryde.
Randfontein Rugbyklub het hul voorseisoen op ‘n hoë noot afgeskop tydens ‘n reeks kragmetings teen Rustenburg Impala.
Die wedstryde het op 22 Februarie plaasgevind, met Teine wat vier van die vyf kragmetings gewen het.
Die eerste span het vyf drieë gedruk en drie doelskoppe oorgeklits vir ‘n gemaklike 31–12 oorwinning. Tiaan Muller, Morné Piater, Rudi Marx, Swys Pretorius en Tristan Dulliseur was die driedrukkers, terwyl Rudi drie doelskoppe suksesvol oor gesit het. Dewalt Sonnekus is as die Man van die Wedstryd aangewys.
Die tweede span was ook op dreef en het met ‘n oorweldigende 43–10-sege gespog. Teine het sewe drieë aangeteken danksy Darien Heyns, Wian Botes, Diandre Vorster, Dylan Viviers en Simphiwe Khumalo, met SJ Horn wat twee drieë gedruk het. Manfred Eyssen het twee doelskoppe behaal en Vincenzo Visagie een.

SJ Horn is as die Man van die Wedstryd aangewys. Die derde span se verdediging was indrukwekkend, en hulle het hul opponente heeltemal gekeer om enige punte aan te teken. Teine het met 24–0 geseëvier.
Die vier driedrukkers was Sims Ngcutha, Arie Esterhuizen, Frikkie Delport en Anele Dambula. Vincenzo Visagie en Ryan Strydom het elk een doelskop behaal. Sean Rabe is as die Man van die Wedstryd aangewys.
Die enigste juniorspan wat die dag in aksie was, was Teine se o21-span, wat met ‘n indrukwekkende 45–12 oorwinning weggestap het. Driedrukkers was Rualdt Pieterse (2), Thabang Ndhlovu (2), Wesley Nyariya, Lisakhanya Kiviet en Jaden Chamberlain.
Jaden het ook vier doelskoppe oorgeklits, terwyl Duncan Knoren een behaal het. Rualdt Pieterse en Thabang Ndhlovu is gesamentlik as die Man van die Wedstryd aangewys. Teine se vrouerugbyspan het egter die knie moes buig met ‘n 45–12-nederlaag.
Catherine Stacey en Refilwe Mangope het elk een drie gedruk, terwyl Marizaan Becker as die Vrou van die Wedstryd aangewys is.



