Sport

Tiffany trotseer uitdagings en voltooi haar eerste Comrades

Alhoewel die resies moeilik was, het Tiffany van Loggerenberg haar trotste prestasie gedeel nadat sy die Comrades Marathon voltooi het.

Tiffany van Loggerenberg (26) het uitstekende resultate behaal toe sy die Comrades Marathon binne die afsnytyd voltooi het.

Haar reis het begin toe vriende wat gereeld hardloop, haar geïnspireer het om ook aktief te raak. Nadat sy ’n 21km kon voltooi, het sy besluit om verder te gaan en marathonne aan te pak.

Tiffany van Loggerenberg met haar medalje.

“Ek het daardie jaar [2019] in April begin hardloop en in November my eerste maraton voltooi. Sodra ek daardie mylpaal bereik het, het ek geweet ek wil verder gaan – toe volg die ultra-maraton, en uiteindelik die Comrades,” het sy vertel.

LEES MEER: Momentum skenk leesboeke, loods inkleurkompetisie en meer by Ramkriekies

Ná deelname aan die Two Oceans Ultra-marathon (56km) was sy gereed vir ’n groter uitdaging. Sy verduidelik dat die Comrades Marathon vir enige hardloper ’n emmerskoplysie-item is, en sy wou haarself toets teen een van die mees ikoniese en veeleisende uithourenne ter wêreld.

Dit was Tiffany se eerste Comrades, en sy het in Januarie amptelik met haar oefenprogram begin. Volgens haar was dit ’n toegewyde ses maande van volgehoue voorbereiding.

“Die moeilikste deel van my opleiding was my ‘peak week’ – dit was die week waarin ek die meeste kilometers ooit in ’n week gehardloop het.

“Ek was fisies moeg, maar geestelik selfs meer. Maar die Here is so getrou en teenwoordig, selfs in daardie moeilikste oomblikke, en dis alles die moeite werd wanneer mens oor daardie eindstreep hardloop,” het sy gesê.

Kort voor die Comrades het sy uitgevind dat sy ’n bakteriële infeksie het, en sy het gevolglik die wedloop onder moeilike omstandighede aangepak.

“Ek wens ek kon sê alles was fantasties en ek het goed gevoel, maar dit was die moeilikste ding wat ek nog ooit aangepak het. In hierdie wedloop het ek regtig ervaar hoe die Here my dra. Ek was eerlik met myself en het myself toegelaat om te voel wat ek voel.”

ALSO READ: Adelle blaas fluitjie op provinsiale vlak – en mik vir meer

Hoewel sy siek oor die eindstreep is, het sy uitstekende deursettingsvermoë getoon en die wedloop in 11 uur en 29 minute voltooi.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring, en ek is trots om dit binne die afsnytyd klaar te gemaak het. Ek wil graag my kwalifiseerder-marathon vir volgende jaar se Comrades teen die einde van hierdie jaar hardloop.

“Dit sal my kans gee om op my voorbereiding vir die ultra-marathonne te fokus. Ek beplan om weer die Two Oceans Ultra te doen en mik beslis daarna om my Back-to-Back Comrades te voltooi,” het sy gesê.

Tiffany het ook raad gedeel vir enigiemand wat beplan om aan die volgende Comrades deel te neem.

“Sit die werk in, maak nie saak hoe moeilik dit raak nie. Maak die opoffering en pluk die vrugte daarvan. Bly toegewyd en gedissiplineerd tydens jou voorbereiding.

Tiffany van Loggerenberg.

“Doen ‘strength training’ – dit is baie belangrik en help jou liggaam om die lang afstande te hanteer en beserings te voorkom.

ALSO READ: Meer as 30 Rappies blink by ATKV-geleentheid

“Praat met ervare hardlopers en toets wat vir jou werk tydens jou training runs. Oefen om te rus, en oefen om te eet.

“Dit is net so belangrik soos die hardloop self. Sit alles in tydens jou voorbereiding, want dit sal jou deur die moeilikste oomblikke dra,” het sy afgesluit.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button