Teine Arende se vlerke geknip deur NWU Pukke
Die Arende se vlerke is geknip tydens ’n reeks nederlae teen die onstuitbare Pukke-masjien van Noordwes-Universiteit.
Al vyf mansspanne van Randfontein Rugbyklub het op 15 Augustus ’n harde les in rugby gekry tydens ’n ligawedstryd teen Noordwes-Universiteit (Pukke).
Teine Arende se o.19-span het eerste die knie gebuig met ’n 45–10 nederlaag. Boikanyo Kamane het die enigste drie gedruk, terwyl Zac Smith een doelskop en ’n strafskop oor kon stuur. Die o.21’s het nog swaarder deurgeloop en 92–3 verloor; Keagan Taylor het sy span se enigste punte aangeteken met ’n strafskop.

By die seniors het Teine wel ’n beter geveg gelewer, maar steeds kortgekom. Die derde span het 36–20 verloor, met Desire Serelepele en Sifiso Miya wat elk ’n drie gedruk het. Ewald Oberholzer het geslaag met twee doelskoppe en twee strafskoppe. Speler van die Week was Quintin Korb. Die tweede span was naby, maar moes met 14–10 tweede viool speel. Eben Vorster en Werner McLean het drieë gedruk, terwyl Brandon Viviers en Wian Botes as Spelers van die Week aangewys is.
In die hoofwedstryd het Pukke se eerste span die laaste hou toegedien met ’n 29–25 sege. Vir Teine het Andrew Volschenk, Rudi Marx en Johan Swart drieë gedruk, terwyl Keagan Fortune twee doelskoppe en twee strafskoppe aangeteken het.
Teine kom op 23 Augustus teen Alberton Rugbyklub te staan. Hulle volgende tuiswedstryd is op 6 September teen Pirates Rugbyklub.



