Teine se Arende skop 2026-seisoen af in styl
Randfontein Rugbyklub se Arende begin die 2026-seisoen belowend met oorwinnings van 61–7 en 52–7 teen Impala.
Randfontein Rugbyklub, die dorp se trotse Arende, het reeds hul vlerke gesprei en die 2026-seisoen belowend afgeskop met twee vriendskaplike wedstryde.
Al die kragmetings is by die Greenhills Stadion, wat onder plaaslike inwoners as die “House of Pain” bekend staan, aangebied.
In Februarie het beide die eerste en tweede spanne van Teine teen Impala kragte gemeet en die besoekers ’n rugbyles geleer, met oorwinnings van onderskeidelik 61–7 en 52–7. Die derde span het ook gemaklik teen die Scorpions geseëvier met ’n telling van 50–3, terwyl ‘n o19- en o21-Teinespan dieselfde opponente met 50–10 verslaan het.


Onlangs was dit die beurt van die aartsvyand, Raiders, waar al Teine se senior spanne geseëvier het, behalwe die eerste span, wat met die nouste van skille – slegs een punt – die knie moes buig, met ’n telling van 37–36. Die eerste span het wel ses keer agter die opponent se doellyn gaan kuier, maar die doelskoppe was nie na wense nie. Die driedrukkers was Wessel van Staden, Bennie Beyleveld, Rudi Marx, Itu Mpete, Barend Steyn en Senzo Hlatshwayo (elk een drie), terwyl Keagan Fortune twee doelskoppe en Tiaan Naude een suksesvol oorgeklits het.
Die tweede span het sy wedstryd gemaklik met 26–7 gewen, terwyl die derde span op ‘n drafstap met 35–5 geseëvier het. Wat die juniors betref, het die o19’s en o21’s onderskeidelik met 38–31 en 26–14 verloor.


Al Teine se spanne kry wel weer die geleentheid vir wraak teen Raiders op 18 April, hierdie keer in Rondte 2 van die Pirates Groot Uitdaagreeks-liga.
Volgens Rika Rabé, die klub se bemarkingsbeampte, is Teine se volgende vriendskaplike wedstryd teen Diggers op Saterdag, 14 Maart. Hou hierdie spasie dop vir die volledige lys van ligastryde in die Pirates Groot Uitdaagreeks.
Lees hier: Sport brings Finsbury community together









