Rekords spat in HTS John Vorster se unieke kriekettoernooi
Die rekords het vanjaar gespat in HTS John Vorster se bekende en gewilde T20 Aandkrieket toernooi.

Die HTS John Vorster se T20 Krieket Aandreeks is nou reeds ‘n gevestigde instelling en vanjaar het dié toernooi weer vir groot opwinding gesorg.
Nadat die toernooi in 2000 ontstaan het, het dit van krag tot krag gegaan en deesdae is dit beslis ‘n hoogtepunt op die krieketkalender van die vier deelnemende skole. Die tuisskool, HTS John Vorster, neem in dié toernooi deel teen twee ander skole uit die Moot, naamlik Hoërskool Oos-Moot en Hoërskool Wonderboom, terwyl Hoërskool Montana uit die noorde die ander deelnemer is.
Oos-Moot het die toernooi reeds nege keer gewen, gevolg deur Montana, wat vanjaar vir die vierde keer as kampioen gekroon is. HTS John Vorster was al drie keer die algehele wenner, terwyl Wonderboom ook al twee keer met die louere weggestap het.
Sedert 2014 is die formaat van die reeks verander na T20-wedstryde wat baie gewild by die spelers en toeskouers is.
Die standaard van die krieket wat by dié toernooi opgedis word is besonder hoog en die toeskouers word jaarliks getrakteer met verstommende aksie in al die aspekte van die spel.
Vanjaar was geen uitsondering nie. Vyftigtalle was gladnie ongewoon nie, terwyl die spanne ‘n gemmiddeld van 135 lopies gehandhaaf het in hul kolfbeurte.
Twee uitsonderlike prestasies staan egter uit in vanjaar se toernooi. Die eerste honderdtal in die geskiedenis van die toernooi in sy huidige T20 formaat is geslaan deur Marco le Roux van Montana. Terselfdertyd het Montana die eerste span geword om 200 lopies in ‘n kolfbeurt aan te teken.
Nog ‘n aspek van die toernooi wat vanjaar uitgestaan het is die briljante veldwerk van al die spanne, veral as in ag geneem word dat baie van die wedstryde onder spreiligte gespeel is.
Montana moes vanjaar hard werk vir die wennerstrofee. Hulle was in ‘n titaniese eindstryd betrokke teen Oos-Moot en die wenner is letterlik met die laaste bal bepaal.
Behalwe vir die kampioenskapstrofee word nog drie gesogte toekennings jaarliks gemaak. Vanjaar is Reinhardt Hamman van Montana aangewys as beste bouler vir die 13 paaltjies wat hy platgetrek het.
Hamman se spanmaat Marco le Roux is aangewys as kolwer van die toernooi nadat hy 198 lopies kon opstapel. Dit het die genoemde rekordbrekende honderdtal ingesluit.
Dié twee seuns van Montana het ook die louere gedeel as speler van die reeks.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
